Baftas: Oorlogfliek maak skoonskip; deftigheid seëvier op rooitapyt

Viktor Prasil, Markus Stemler, Frank Kruse en Lars Grinzel tydens die 76ste Bafta-toekenningsgeleentheid. (Foto: Justin Tallis/AFP)

’n Epiese rolprent wat oor die Eerste Wêreldoorlog gaan, All quiet on the Western Front, het sewe toekennings ingeoes by die 76ste Bafta-toekenningsgeleentheid, wat Sondag in Londen plaasgevind het.

All Quiet on the Western Front is ’n Duitse rolprent wat in Oktober 2022 sy verskyning op die stromingsreus, Netflix, gemaak het. Dit sal die eerste keer wees dat ’n rolprent wat nie Engels is nie, met soveel pryse by die Baftas wegstap. Die fliek het stof in gehoorgunstelinge soos Elvis, Everything everywhere all at once en The banshees of Inisherinse oë geskop.

Dié oorlogfliek het toekennings vir die beste rolprent, beste regisseur, beste fliek wat nie Engels is nie, beste verwerkte draaiboek, beste oorspronklike klankbaan, beste rolprentfotografie, en beste klank ontvang.

All quiet on the Western Front is ’n verwerking van ’n boek wat deur Erich Maria Remarque in 1928 geskryf is. In sy ontvangstoespraak het Edward Berger, die regisseur van die rolprent, gesê dat die rolprentmakers “’n verantwoordelikheid gehad het om die storie te vertel”.

Daar word voorspel dat All quiet on the Western Front ’n gunsteling is om ’n paar Oscar-toekennings ook te ontvang.

The banshees of Inisherin het vier toekennings ingeoes, insluitend vir die beste Britse rolprent, die beste ondersteunende aktrise (Kerry Condon), beste ondersteunende akteur (Barry Keoghan) en beste oorspronklike draaiboek.

Elvis, die biografiese rolprent wat oor Elvis Presley se lewe gaan, het ook met vier toekennings weggestap. Austin Butler het die toekenning vir die beste akteur ontvang. Die fliek het ook toekennings vir beste rolverdeling, beste kostuumontwerp en beste grimering en haarstilering ontvang.

In sy ontvangstoespraak het Austin die Presley-familie bedank.

Emma Mackey het met die ontluikende ster-toekenning weggestap. (Foto: Justin Tallis/AFP)

“Hierdie is werklik uitsonderlik.Ek kan nie genoeg vir die Presley-familie se liefde dankie sê nie. Ek hoop ek het julle trots gemaak.”

Emma Mackey het met die EE Bafta ontluikende ster-toekenning weggestap. Die publiek moes die wenner in dié kategorie kies. Emma het met Aimee Lou Wood, Daryl McCormack, Naomi Ackie en Sheila Atim vir die toekenning meegeding.

Rolprente soos The woman king, The whale, Good luck to you, Leo Grande, Black Panther: Wakanda forever en Tár is ook vir verskeie toekennings benoem.

Kry die volledige lys Bafta-benoemings en -toekennings hier.

Deftigheid seëvier op rooitapyt

Elegante, deftige en stylvolle aandrokke en snyerspakke het die rooitapyt van vanjaar se Bafta-toekennings oorheers.

Die prins en prinses van Wallis, Catherine en William, het soos gewoonlik ook hul verskyning op die tapyt gemaak. William geklee in ’n netjiese swart pak en Catherine in ’n wit Alexander McQueen-rok met bypassende lang swart satynhandskoene.

Haar oorbelle, ’n begrotingsvriendelike Zara-stel, het veral die koppe laat draai.

Viola Davis, benoem vir haar rol in The Woman King, het ’n noupassende, glinsterende pers rok aangehad, terwyl Eddie Redmayne in ’n stylvolle swart uitrusting gepronk het.

Swart- en witkleurige rokke het voorkeur geniet met ’n tikkie kleur wat hier en daar kop uitgesteek het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

JohanR ·

Haai Kate as ou Meghan net half soe deftig kan lyk, en ou Willem jy’s ook uitgevat.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.