Beethoven se ‘skedelfragmente’ aan Wene terugbesorg

Beethoven (Deur Joseph Karl Stieler via Wikimedia Commons)

Skedelfragmente, wat vermoedelik van Ludwig von Beethoven afkomstig is, is terugbesorg aan Wene, waar die legendariese 19de-eeuse Duitse komponis begrawe is, het kenners Donderdag gesê.

Die Amerikaanse sakeman Paul Kaufmann het die fragmente, wat hy geërf het, geskenk aan die Mediese Universiteit van Wene waar navorsers die siektes sal ondersoek waaraan die komponis gely het en ook die oorsaak van sy afsterwe probeer bepaal.

“Dis hier waar die beendere behoort, terug in Wene,” het Kaufmann aan verslaggewers gesê.

Die Oostenrykse lykskouer Christian Reiter het gesê die 10 fragmente, insluitend twee groter stukke, een van die agterkant van die kop en een van die regterkant van die voorkop, het “groot waarde”. “Ons het werklik waardevolle materiaal hier ontvang, en ons hoop om oor die volgende paar jaar met navorsing voort te gaan. Dit was ook Beethoven se wens,” het Reiter gesê.

Die komponis het lewenslank met siektes gesukkel en het uitdruklik gevra dat sy liggaam bestudeer sou word, het Reiter bygevoeg.

Beethoven, wie se klavier, kamermusiek en simfoniese werke onder die grootste van die Westerse klassieke musiek geag word, is in 1827 op 56-jarige ouderdom oorlede ná jare se stryd met onbekende kwale, insluitend toenemende doofheid in sy latere jare.

Na bewering is die fragmente die enigste oorblywende fragmente van Beethoven se skedel, aldus Reiter.

Die skedelfragmente, wat vermoedelik van Ludwig von Beethoven afkomstig is by die Mediese Universiteit van Wene in Oostenryk (20 Julie 2023) (Foto: Eva Manhart/APA/AFP/Austria Out)

Kaufmann – wie se Joodse voorouers voor die Nazi’s gevlug het – het gesê hy het in 1990 op die fragmente afgekom in ʼn klein boksie met die naam “Beethoven” daarop. Dit is gehou in die familie se veiligheidskassie by ʼn Franse bank.

ʼn Familielid van Kaufmann, die Oostenrykse dokter Franz Romeo Seligmann, het dit na bewering in 1863 bekom toe Beethoven se liggaam opgegrawe is.

Kaufmann het gesê die fragmente sal nou verder ontleed word om te bevestig dat hulle aan die oorlede komponis behoort, wat in Wene gesterf het.

Oorsaak van sy afsterwe nog ʼn raaisel

Volgens beskikbare bewyse is die fragmente die ware Jakob.

ʼn Groep Amerikaanse wetenskaplikes het in 2005 aangekondig dat toetse op Beethoven se hare en die skedelfragmente getoon het dat hy aan loodvergiftiging gesterf het, wat moontlik ook die rede was vir sy gehoorverlies.

Navorsers aan die Argonne Nasionale Laboratorium van die Amerikaanse departement van energie in Illinois het gesê die beenfragmente, getoets by die land se kragtigste X-straalfasiliteit, het hoë konsentrasies lood bevat wat ooreengestem het met vroeëre bevindinge van lood in sy hare.

Die bron van die lood is onbekend, maar hulle het gesê dit mag moontlik afkomstig wees van ʼn wynbeker wat met die metaal vervaardig is.

Alternatiewelik het sommige mediese behandeling in die 18de en 19de eeu lood en kwik gebruik.

Beethoven het buikpyn in sy 20’s ervaar wat progressief erger geword het, en die komponis het ʼn groot aantal dokters geraadpleeg op soek na ʼn geneesmiddel.

Navorsers, wat ʼn volgordebepaling gedoen het van Beethoven se genoom deur gebruik te maak van outentieke haarmonsters, het in Maart gesê lewerversaking, of sirrose, was waarskynlik die oorsaak van sy dood. Dit is deur ʼn aantal faktore veroorsaak, insluitend alkoholverbruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Sêmanet ·

Wat gaan gebeur as hulle nou hierdie inligting het? Laat die arme ou in vrede om musiek in die hemel te komponeer. Dis nou al soveel jare gelede, hoekom nou sulke dinge doen?

OU SAAR ·

Ek stem saam.
Maar jy kan nie stry nie, dit is tog baie interressant.
As hulle maar net in die 19de eeu die tegnologie en dokters gehad het wat ons vandag het, kon hy nog baie meer pragtige musiek komponeer.

Republikein in die Wes Kaap ·

Daar word beweer Ludwig se pa het sifilus gehad. Van sy kinders het allerhande kwale en gebreke gehad.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.