Beloning vir dappere wat krok kan bevry

Die band is al meer as drie jaar om die krokodil se nek. (Foto: @7heGodFather/Twitter)

Almal van heldersiendes tot Australiese diereredders en ʼn bekende avonturier het al probeer om ʼn krokodil te bevry wat nou reeds langer as drie jaar met ʼn motorfietsband om sy nek rondloop, maar Indonesiese owerhede is nog nie bereid om tou op te gooi nie.

Die soutwaterkrokodil is die eerste keer in 2016 met die band om sy nek in ʼn rivier naby die provinsiale hoofstad Palu opgemerk. In daardie stadium was die owerhede se grootste vrees dat die dier sou versmoor namate hy groei.

Hasmuni Hasmar, bewaringshoof van die Sentraal-Sulawesi-provinsie, bied nou ʼn beloning aan vir enige kenner wat die dier uit sy lyding kan verlos.

“Wie ook al die band om die krokodil se nek kan afhaal, sal ʼn beloning ontvang,” het Hasmar gesê.

Die geld, ʼn “beduidende bedrag”, kom boonop uit sy eie sak.

Hy maak egter nie die bedrag bekend nie, aangesien hy vrees mense wat nié weet hoe om die krokodil te bevry nie, sal na die gebied stroom en hulself in gevaar stel.

Die vrees bestaan dat die krokodil eindelik kan versmoor. (Foto: Sky News)

“Dit kan roekelose mense lok en dit gaan gevaarlik wees omdat daar naastenby 36 krokodille in die spesifieke gebied woon.”

In 2018 het ʼn bekende diereredder, Panji Die Avonturier, en sy span onsuksesvol probeer om die krokodil te bevry.

Hasmar sê die krokodil kan nie sommer net verdoof word nie omdat die moontlikheid bestaan dat ánder krokodille kan toeslaan wanneer hulle die dier probeer bevry.

Die gebied waar die krokodil van byna 4 meter lank woon, is yl bevolk en daarom het bewaarders hul hoop nou op die beloning geplaas om ʼn opgeleide persoon aan te spoor om te help, het Sky News berig.

Die krokodil, wat reeds as bedreig beskou word, het al verskeie ander hindernisse, waaronder tsoenami’s en aardbewings wat Palu getref het, oorleef.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Vonkprop ·

Stap 1: Kry vir Zuma om die krokodil met sy kwadfiets in die nag uit te trek.
Stap 2: Eskom sit die krag af om alles donker te maak. Die krokodil weet dan nie waar hy is nie. Sit kleefband om sy mond.
Stap 3: Smeer die krokodil met brandbestande gel.
Stap 4: Vra ‘n #FeesMustFall student om die band brand te steek.
Stap 5: Ontvang geld en betaal 50% aan SARS vir belasting.

Johanncb ·

Gebruik ‘n hommeltuig met ‘n laserstraal daaraan gekoppel. Alles is afstandbeheer, niemand sal seerkry nie!

Strandloper ·

Man man….waar is die dae toe ek nog jonk en jeukerig was…net n half jack as prys sou die ding doen…

isabelle ·

aaaai dis nogal n storie die…..hoop ons sien wie is so dapper en hul leef vir die foto

VanAfrika ·

Man!!!!, kry vir Bindi en Rob Irwin, hul pa Steve Irwin, die “Crocodile Hunter” het hulle mooi geleêr hoe om krokkedille te vang en te red as iets fout is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.