Betogings in China oor Covid-19-beleid

Betogers het Sondag leë velle papier omhoog gehou wat sensuur simboliseer (Foto: William West, AFP)

Inwoners van verskeie groot stede in China het Sondag die strate ingevaar om ’n beroep op die regering te doen om ’n einde aan die streng Covid-19-inperkingsregulasies te bring.

Die betogings volg op ’n brand wat verlede week in Ürümqi, die hoofstad van Noordwes-China se Xinjiang-streek, uitgebreek en die lewe van minstens 10 mense geëis het. Die voorval het openbare woede ontketen met talle inwoners wat Covid-19-inperkings blameer het vir die belemmering van reddingspogings.

China bly die enigste land in die wêreld met ’n streng nul-Covid-19-beleid, met 40 052 gevalle wat Maandag in die land aangemeld is.

Daar is openbare woede aangesien dié beleid nie verlede maand ná die regerende Chinese Kommunistiese Party se vyfjaarlikse kongres verslap is soos verwag nie.

Yasheng Huang, ’n professor aan die MIT Sloan School of Management, het op Twitter gesê die Kommunistiese Party se nuwe topleierskap, bestaande uit Xi Jinping-lojaliste, is verbind tot die nul-Covid-19-beleid.

“Voor die 20ste kongres was daar hoop op beleidsverandering, maar die leierskap van die kongres het hierdie verwagting heeltemal ontspoor en mense gedwing om self op te tree,” het Huang gesê.

Die betogings sou Maandag voortduur, maar die polisie het dié planne in die wiele gery deur paaie met polisievoertuie te versper en tydelike blou heinings langs sypaadjies op te rig om verdere byeenkomste te keer.

BBC-joernalis aangehou

Brittanje se regering het Maandag die Chinese polisie veroordeel nadat die BBC gesê het een van sy joernaliste is ure lank in Sjanghai aangehou en aangerand terwyl hy oor die betogings verslag gedoen het.

Ed Lawrence, wat in China werk as ’n geakkrediteerde joernalis, is na bewering deur die polisie aangehou, geskop en geslaan.

Volgens die BBC is ’n video wat wys hoe Lawrence by een van die betogings in Sjanghai meegesleur word “uiters kommerwekkend”.

“Ons het geen amptelike verduideliking of verskoning van die Chinese owerhede gekry nie, behalwe ’n bewering deur die amptenare – wat hom later vrygelaat het – dat hulle hom vir sy eie beswil in hegtenis geneem het ingeval hy Covid-19 by die skare sou opdoen,” sê die uitsaaier.

“Ons beskou dit nie as ’n geloofwaardige verduideliking nie.”

China se ministerie van buitelandse sake het Maandag gesê Lawrence het homself nie as ’n joernalis geïdentifiseer of sy persgeloofsbriewe aangebied nie en is gevolglik in hegtenis geneem.

Die Britse minister van buitelandse sake, James Cleverly, het die voorval as “diep ontstellend” beskryf.

“Mediavryheid en vryheid om te betoog moet gerespekteer word en geen land is daarvan vrygestel nie,” het hy gesê.

“Joernaliste moet hul werk sonder intimidasie kan doen.”

‘Xi Jinping moet bedank’

Betogers het Sondag leë velle papier omhoog gehou wat sensuur simboliseer (Foto: William West, AFP)

Kenners meen die betogings het ook ’n diepgewortelde frustrasie teen die land se breër politieke stelsel blootgelê met betogers wat Sondag geskreeu het dat pres. Xi Jinping moet bedank.

Xi onderdruk al jare lank betogings in die land, met inwoners wat hulle meestal tot sosiale media wend om sensuur vry te spring. Betogings in China is ongekend sedert die pro-demokrasie-saamtrekke in 1989.

Betogers het Sondag leë velle papier omhoog gehou wat sensuur simboliseer. Daarmee saam het hulle ook slagspreuke soos “vryheid van kuns” en “vryheid om te skryf” geuiter.

Studente wat Sondag by Beijing se elite-Tsinghua-universiteit betoog het, het onder meer “demokrasie en die oppergesag van die reg, vryheid van uitdrukking” geskree.

Die politieke wetenskaplike Maria Repnikova sê dit is interessant hoe ’n enkele kwessie wat fokus op #covidlockdown tydens die betogings vinnig in breër politieke kwessies ontaard het.

Woede loop hoog’

Volgens Wu Muluan loop die woede hoog onder jong betogers en maak dit die taak van wetstoepassingsagentskappe moeilik omdat hulle nie almal in hegtenis kan neem nie.

Peter Frankopan, professor in wêreldgeskiedenis aan die Universiteit van Oxford, het die rol van die polisie as delikaat beskryf. “Daar sal aansienlike simpatie wees, veral van jonger beamptes se kant af, met betogers,” het hy gesê.

Willy Wo-Lap Lam, senior genoot by The Jamestown Foundation, sê die leierskap sal waarskynlik gedwing word om die onrus in die openbaar te konfronteer.

“Die president of ander topvlakleiers sal vroeër of later moet uitkom en indien nie, is daar ’n risiko dat die betogings langer sal voortduur,” het hy gesê.

Wo-Lap Lam sê wat die omvang en intensiteit van die betogings betref, is dit die grootste protesoptog onder jong mense in China sedert die studentebeweging wat in 1989 plaasgevind het.

“In 1989 was studente baie versigtig om nie die partyleierskap by die naam aan te val nie. Hierdie keer was hulle baie spesifiek dat hulle ’n verandering in leierskap wil hê.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

VaalDonkie ·

Ek is bly vir hulle. Maar ek wonder of hierdie nie Amerika is wat “demokrasie” wil stook in China nie. Dis mos hoe hulle tewerk gaan: hits chaos aan en dan kom “democracy” hulle die wit waks uit die arme land uit.

Republikein in die Wes Kaap ·

Amerika se rol in die betogings moet nie onderskat word nie. Ook nie in Iran en Afghanistan nie. Binnekort sal dit ook in Rusland begin.

Robert ·

Welgedaan! Hoogtyd dat die bewind en hulle planne bevraagteken word.

Johan ·

Lyk my ons kan die “vryheid” in n land meet teen hul c19 reaksie. Met Sjina op 0% (vasgevang) en lande soos Tanzanië op 100%(vry)…. ons sal wel nie baie goed vaar op so skaal nie so ook nie die “nanny staat” van Australië en die polisie staat Kanada nie. Corona virus bly wat dit is, verkoue en sal vir ewig by ons wees.

Johan ·

Indien jy kies om te glo aan die ding, dan glo jy. Indien jy kies om te glo dit is slegs n verkoue, dan glo jy . Net solank mens verstaan dat mens glo altyd volgens n verskafde verwysingsraamwerk en sodoende maak mens hul keuse oor wat hul wil glo volgens daardie reëls. Artificial Intelligence werk ook blykbaar so.

Miskruier ·

Ek bid dat hierdie arme mense van hierdie korrupte regering verlos word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.