‘Bid vir ons’ – ontvoerde Amerikaanse sendelinge

‘n Foto van Port-au-Prince in Haiti, wat in 2019 geneem is. (Foto: CHANDAN KHANNA / AFP)

“Bid asseblief vir ons. Ons word as gyselaars aangehou. Hulle het ons bestuurder ontvoer. Bid, bid, bid. Ons weet nie waarheen hulle ons neem nie.”

Só lui ’n desperate boodskap op ’n WhatsApp-groep oomblikke nadat ʼn groep Amerikaanse sendelinge en hul gesinne Saterdag deur ʼn bende buite Port-au-Prince, Haiti se hoofstad, ontvoer is.

Een van die sendelinge kon nog dié boodskap stuur nadat die groep van 16 Amerikaners en een Kanadees deur ʼn berugte bende genaamd 400 Mawozo as gyselaars geneem is.

Die groep sendelinge – vyf mans, sewe vroue en vyf kinders – is verbonde aan die Christelike groep Christian Aid Ministries wat in die Amerikaanse deelstaat Ohio gesetel is.

CNN berig die bende het reeds kontak gemaak met die Christelike groep.

Dan Hooley, ʼn voormalige velddirekteur van Christian Aid Ministries in Haiti, het Sondag aan CNN gesê al die ontvoerde sendelinge was vermoedelik in een voertuig en dat sommige van hulle die plaaslike direkteur van die organisasie kon kontak voordat hulle as gyselaars geneem is.

“’n Paar van die sendelinge het dadelik ʼn boodskap aan die direkteur gestuur en hom vertel wat aan die gang is. Een van hulle kon selfs hul ligging stuur. Dit is die laaste ding wat [die organisasie] van hulle gehoor het totdat die ontvoerders hulle later die dag gekontak het,” het Hooley gesê.

Christian Aid Ministries het Sondag in ’n verklaring vir gebede gevra.

“Bid saam met ons vir diegene wat as gyselaars aangehou word, die ontvoerders en die gesinne, vriende en kerke van diegene wat geraak word. Bid vir diegene op soek na God se leiding en wat besluite moet neem oor hierdie aangeleentheid.”

Maroela Media het vroeër berig die groep sendelinge was op pad terug van ʼn weeshuis ongeveer 30 km oos van Port-au-Prince, toe hulle deur die bendelede voorgekeer is.

Die plaaslike owerhede in Haiti het tot dusver nog nie juis enige amptelike kommentaar op die voorval gelewer en die plaaslike polisie het nie onmiddellik gereageer op AFP se versoek om kommentaar nie.

Die Amerikaanse regering het aangedui dat hy bewus is van die voorval en dat die welstand en veiligheid van Amerikaners oorsee een van die regering se hoofprioriteite is. ’n Regeringsamptenaar wou egter nie enige verdere inligting bekendmaak nie.

Die bende het al verskeie voertuie in Haiti gekaap – selfs busvragte vol slagoffers – sodat hulle later buitensporige lospryse kan eis.

Meer as 600 ontvoerings is reeds vanjaar in Haiti aangemeld. In April vanjaar is tien mense, onder wie twee Rooms-Katolieke priesters, in dieselfde gebied deur lede van 400 Mawozo ontvoer. Die priesters is ná 20 dae vrygelaat.

Bronne: AFP, Washington Post, CNN

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Shakespeare ·

Die Here sal sy engele stuur om julle te bewaar en Hy self sal vir julle veg. Sy woord sal nie leeg terugkeer nie maar doen waarvoor dit uitgestuur is. Sy Woord is
JA en AMEN !!!

Elmarie ·

Dis baie erg, en hier kla ons so maklik maar minstens het ons nog steeds vryheid van godsdiens!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.