Blomme neergelê, vlae hang halfstok vir prins Philip

Talle ruikers en Britse vlae is buite die paleis neergelê. (Foto: Tolga Akmen/AFP)

Skares mense het Vrydag na Buckingham-paleis, koningin Elizabeth II se amptelike woning in Londen, gestroom nadat die nuus oor haar man, prins Philip (99), se dood bekend gemaak is.

Talle mense, baie van hulle gesinne met jong kinders, het saamgedrom om te kyk na die amptelike aankondiging wat teen die paleishek opgesit is.

Enkele affodille is deur die swart traliewerk geryg, terwyl ander roubeklaers ruikers en Union Jack-vlae op die sypaadjie neergelê het.

Terwyl die nuus oor Philip se dood versprei is, was die atmosfeer somber. Gedempte gesprekke het opgeklink en soms was dit net die geluid van die verbygaande verkeer wat die stilte verbreek het. Sommige mense was sigbaar aangedaan.

Buckingham-paleis, ʼn beroemde Londense baken, het een van die bymekaarkomplekke vir openbare rou geword ná die dood van Diana, prinses van Wallis, in 1997.

Prins Philip was 99. Hy het Vrydag gesterf. (Foto: The Royal Family/Twitter)

Polisiebeamptes in uniform geklee, het deur die skares gestap en mense diskreet aan die handhawing van sosiale afstand tydens die Covid-19-pandemie herinner. Die beperkings wat weens die pandemie ingestel is, beteken daar is minder mense as wat gewoonlik tydens so ʼn groot gebeurtenis verwag word.

Sommige mense het egter steeds gevoel dit is hul plig om formeel hulde aan Philip te bring.

Prins Philip se dood is die jongste – en waarskynlik grootste – terugslag vir die koningin wat oor die jare heen etlike familietwiste en verskeie skandale wat die monargie geruk het, moes trotseer.

Die 94-jarige monarg moes net die afgelope paar maande verskeie krisisse hanteer. Prins Harry en sy vrou, Meghan, het verlede jaar aangekondig dat hulle hul pligte as koninklikes laat vaar en na die VSA verhuis.

Hartseer oor hul vertrek het sommer gou in ʼn volskaalse krisis ontaard toe die egpaar verlede maand in ʼn onderhoud met die Amerikaanse kletskoningin Oprah Winfrey talle omstrede uitlatings gemaak het. Meghan het ʼn ongenoemde familielid onder meer daarvan beskuldig dat die persoon oor die velkleur van hul toe nog ongebore babaseun, Archie, bespiegel het. Sy het ook gesê dat die familie haar pleidooie oor geestesgesondheidsprobleme verontagsaam het.

Die koningin het gereageer deur te sê dat Harry en Meghan steeds geliefde lede van die familie is en dat die bewerings oor ras ondersoek sal word. Die koningin het egter ook gesê dat die manier hoe mense die voorval onthou, moontlik van mekaar kan verskil.

Die koningin se tweede oudste seun, prins Andrew, het in 2019 opsy gestaan te midde van groot kritiek oor sy vriendskap met die veroordeelde seksmisdadiger Jeffrey Epstein.

Prins Harry en sy vrou Meghan tydens hul onderhoud met Oprah Winfrey. (Foto: Joe Puugliese/Harpo Productions/AFP)

Dit is egter die dood van haar man, Philip, haar rots oor die afgelope 73 jaar, wat die grootste terugslag sal wees.

Philip het in 2017 alle openbare verpligtinge laat vaar, maar was deur al die beproewinge altyd aan die koningin se sy. Tydens die onderhoud met Harry en Meghan was die prins in die hospitaal waar hy vir ʼn infeksie behandel is.

Die koningin en Philip het saam duisende afsprake nagekom, asook die koninklike familie deur tye van ongekende verandering gelei.

Die koninklike biograaf Christopher Wilson het Philip bestempel as die een wat die leiding gegee en dissipline toegepas het om familielede op die regte pad te help hou.

Die koningin, wat bekend is daarvoor dat sy nie sommer haar persoonlike gevoelens in die openbaar deel nie, het in 1997 gesê Philip was “deur al die jare my krag en behoud”.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Kremetart ·

Het ons nie op skool geleer ‘n vlag hang halfmas nie? Halfstok klink nie soos iets wat ek al voorheen gehoor het nie.

katerinadiekat ·

Meghan se giftigheid kon ook nie prins Philip se brose gesondheid veel gehelp het nie. Such deep upset is not good for the very elderly and fragile.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.