Britse weermag sal nou brandstof aflewer

‘Geen brandstof’. Die weermag sal van Maandag help om brandstof by vulstasies af te lewer. (Foto: Niklas Hallen/AFP)

Die Britse weermag sal van Maandag begin om brandstof by vulstasies af te lewer nadat vrese oor ʼn tekort aan vragmotorbestuurders gelei het tot paniekaankope en die regering gedwing is om visums aan buitelanders toe te staan in ʼn poging om die probleem te verlig.

“Amper 200 weermagtenkpersoneel, 100 van hulle bestuurders, sal van Maandag ontplooi word om tydelike steun te verleen as deel van die regering se breër plan om verligting aan petrolstasies te bring en die tekort aan bestuurders te pak,” het die regering luidens ʼn verklaring gesê.

Motoriste staan sedert die begin van die week tou by vulstasies. Tenks het opgedroog en emosies het gereeld oorgekook.

“Danksy die enorme pogings van die bedryf die afgelope week, sien ons voortgesette tekens dat die situasie by die pompe stadigaan verbeter,” het Kwasi Kwarteng, die Britse minister belas met sake-, energie- en nywerheidstrategie, gesê.

“Dit is belangrik om te benadruk dat daar geen nasionale tekort aan brandstof in die Verenigde Koninkryk is nie en mense soos gewoonlik brandstof moet koop. Hoe vinniger ons terugkeer na ons normale aankoopgewoontes, hoe vinniger kan dinge tot normaal terugkeer.”

Die regering sê ʼn tekort aan bestuurders van tenkwaens en ʼn ongekende vraag na brandstof is die dryfvere agter die krisis. Die vraag na brandstof het deur die loop van die week gestabiliseer, maar in sommige dele van die land is daar steeds groot tekorte.

Die Petrolhandelaarsvereniging (PRA) het Donderdag gesê 27% van vulstasies staan sonder brandstof. Dit is minder as vroeër die week, maar dieselfde as Woensdag.

“PRA-lede het aangedui dat hoewel hulle brandstofvoorraad ontvang, dit vinniger opraak weens die ongekende aanvraag,” het Gordon Balmer, hoof van die vereniging, gesê.

Die weermagbestuurders is aan die begin van die week op ʼn gereedheidsgrondslag geplaas en het sedertdien spesialisopleiding daarvoor ontvang.

“Die regering het besluit om ingrypende stappe te doen om die korttermynontwrigting aan ons verskaffingskettings te pak, veral die verskaffing van brandstof aan vulstasies,” het min. Steven Barclay gesê.

“Ons sien nou die uitwerking van dié ingryping met meer brandstof wat afgelewer word as wat verkoop word. As mense weer soos normaalweg brandstof ingooi, gaan ons korter toue sien en verhoed dat stasies moet sluit.”

Shell, BP en Esso het reeds aangedui dat daar oorgenoeg brandstof in die land is en hulle verwag dat die situasie binnekort na normaal gaan terugkeer. Maar na ʼn week van lang toue by vulstasies is daar steeds tekorte in talle dele van die land – en vrese oor die uitwerking daarvan op die ekonomie.

Kritici pak die skuld vir die situasie op die regering wat glo niks gedoen het nie nadat Brittanje aan die Europese Unie (EU) onttrek het en buitelandse vragmotorbestuurders die land moes verlaat.

Benewens brandstoftekorte het die gebrek aan genoeg bestuurders ook gelei tot leë winkelrakke en daar is vrese dat daar oor die Kerstyd ʼn tekort aan kos – en speelgoed – kan wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Anel ·

Die Britte moet maar vir hulle kry. Klink soos die ANC. Geen vooruit beplanning nie.

Fritz ·

Jip, alle regerings het maar n mate van useless-geit in hulle. Party meer as ander natuurlik, maar almal het. Die meeste regerings regeer reaktief, nie proaktief nie.

Barney ·

Sjoe. Die gras was toe nou nie groenner daai kant van die sout seë nie né?

Hennie J ·

Ongeag die redes vir die probleem; die britte het ten minste n regte weermag waarop teruggeval kan word in geval van nood.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.