Broadway-akteur sterf weens Covid-19

Nick Cordero (Foto: Instagram)

Die Broadway-akteur Nick Cordero is dood ná 95 dae in die hospitaal as gevolg van komplikasies van die koronavirus.

Die 41-jarige akteur het gespeel in musiekspele soos Waitress, A Bronx Tale en Bullets over Broadway, waarvoor hy ook vir ʼn Tony-toekenning benoem is.

Cordero is op 30 Maart by die noodeenheid van die Cedars-Sinai-hospitaal in Los Angeles opgeneem as gevolg van komplikasies van die koronavirus. Sy toestand het deurgaans verswak en hy het met ʼn reeks gesondheidsprobleme soos ʼn klein beroerte, bloedklonte en infeksies gesukkel.

Cordero was aan ʼn ventilator gekoppel en nie by sy bewussyn nie. Sy regterbeen moes intussen geamputeer word.

Nick saam met sy vrou, Amanda en seun, Elvis. (Foto: Instagram)

Sy vrou, Amanda Kloots, het deurlopend haar man se toestand met haar volgelinge op Instagram gedeel en Maandagoggend bevestig dat hy dood is.

“God het nou nog ʼn engel in die hemel. My lieflingman is vanoggend dood. Hy was omring deur familie wat gesing en gebid het terwyl hy saggies die aarde verlaat,” skryf sy.

Kloots sê haar hart is gebreek en dat sy nie haar lewe sonder hom kan indink nie. Kloots en Cordero het ʼn eenjarig seun, Elvis.

“Nick was so ʼn helder lig. Hy was almal se vriend, hy was mal daaroor om te luister, om te help en veral om te praat. Hy was ʼn ongelooflike akteur en musikant. Hy was lief vir sy familie en mal daaroor om ʼn pa en eggenoot te wees. Ek en Elvis sal hom elke dag mis in alles wat ons doen.”

Nick saam met sy seun, Elvis (Foto: Instagram

Ander bekendes soos Selma Blair, Zach Braff, Ashley Tisdale, Kate Hudson, Alyssa Milano en Morgan Steward het hul ondersteuning vir Kloots in die kommentaar uitgespreek.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Martie Smartie ·

Swak beriggewing MM. Om mee te begin, is die oorledene getoets vir die virus en wat was die uitslag? Die komplikasies (soos been amputeer en bleodklonte) is myns insiens nie verwant aan COVID19 nie. Om alles oor die boeg v koronavirus te gooi, blaas net die ‘media hype’ aan – julle kan seker beter as dit doen, of skryf julle verslaggewers bloot af by ander aanlyn bronne? Pas dan logika toe en verifieer inligting.

Hannahoekom ·

Liewe Martie Smartie, bloedklonte is beslis deel van die virus se erger newe-effekte. Die klonte vorm in die longe en kan dan beroertes, hartaanvalle, ens. veroorsaak. Kry jy liewer jou feite agtermekaar voor jy net aanval. Die bloedklonte wat vorm is agv die virus

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.