Céline Dion gretig om weer op te tree ondanks siekte

Celine Dion tydens die Grammy-toekennings in 2024 (Foto:
@recordingacademy/Instagram)

Die Kanadese popster Céline Dion, wat aan ʼn seldsame neurologiese afwyking ly, het in ʼn plasing op Instagram gesê sy sien uit na haar terugkeer na die verhoog.

Die 55-jarige Dion het in Desember 2022 onthul dat sy met Moersch-Woltman-sindroom, ook bekend as Stiff Person Syndrome of SPS, gediagnoseer is. Dit veroorsaak spierstyfheid en pynlike spasmas, en lei tot aansienlike bewegingsinperking. Hoewel dié siekte slegs een tot twee mense uit ʼn miljoen raak, is dit moeilik diagnoseerbaar en het dit ʼn reuse-impak op ʼn persoon se lewensgehalte.

“Om hierdie outo-immuunsiekte te oorkom was een van die moeilikste ervarings van my lewe, maar ek bly vasberade om na die verhoog terug te keer en so normaal as moontlik te leef,” het Dion Vrydag in ʼn plasing gesê ter herdenking van Internasionale SPS-bewusmakingsdag.

“Ek wil graag diegene reg oor die wêreld, wat deur SPS geraak word, aanmoedig en ondersteun. Ek wil hê julle moet weet julle kan dit doen! Ons kan dit doen!” het die Grammy-bekroonde sangeres van treffers soos “My Heart Will Go On” en “Because You Loved Me” gesê.

“Ek is so dankbaar vir die liefde en ondersteuning van my kinders, familie, span en julle elkeen,” het sy bygevoeg, saam met ʼn foto waar sy saam met haar drie seuns poseer.

Daar is nie enige geneesmiddel vir SPS nie, maar behandeling kan die simptome beheer. Volgens die Amerikaanse Nasionale Instituut van Gesondheid, raak SPS vroue twee keer soveel as mans.

Dion is in Mei verlede jaar gedwing om ʼn rits vertonings vir 2023 en 2024 te kanselleer. Sy was nie sterk genoeg om die toer te onderneem nie.

Dion is vir die laaste keer in Februarie in die publiek gesien toe sy die Grammy-toekennings met ʼn verrassingsverskyning bygewoon het. Sy het die Album van die Jaar-toekenning aan Taylor Swift oorhandig.

Dion het in Januarie aangekondig dat sy ʼn dokumentêre fliek oor haar toestand sal maak, wat op Amazon Prime Video uitgesaai sal word. Sy wil hierdeur graag verdere bewusmaking kweek oor haar toestand. I am: Céline Dion deur die Oscar-benoemde rolprentmaker Irene Taylor word na verwagting later vanjaar vrygestel.

Dion het meer as 250 miljoen albums verkoop tydens haar dekadeslange loopbaan. Die Quebec-gebore ster se “Courage”-wêreldtoer het in 2019 begin. Sy het 52 vertonings afgehandel voor die toer weens die Covid-19-pandemie opgeskort moes word.

Klik hier om meer te lees oor haar siekte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.