Coco Lee, stem van ‘Mulan’, oorlede

Coco Lee tydens ‘n optrede in China in 2018. (Foto: Zhou junxiang/Imaginechina via AFP)

Die Hongkongs-gebore Amerikaanse popsangeres Coco Lee, geliefd in Asië vir haar musiek en as die stem van Disney se Mulan in Mandaryns, is Woensdag oorlede, aldus ʼn aankondiging deur haar familie.

Die 48-jarige het die afgelope paar jaar aan depressie gely “maar haar toestand het die afgelope paar maande drasties versleg,” het susters Carol Lee en Nancy Lee in ʼn plasing op Instagram gesê.

Sy is Sondag in die hospitaal opgeneem ná sy probeer het om haar eie lewe te neem.

“Die hospitaalspan het tevergeefs gespook om haar te red en haar in haar koma te behandel. Sy is op 5 Julie 2023 oorlede.”

Lee, gebore op 17 Januarie 1975 in Hongkong, het in Kalifornië grootgeword. Sy het in die 1990’s bekendheid verwerf met haar sterk stem, crescendo-stemrefreine en sielvolle ballades.

Sy was vlot in Kantonnees, Mandaryns en Engels. Dit het haar gehelp om aanhangers te werf in China en Taiwan, maar ook in Singapoer en Maleisië en selfs Australië.

Sy het die Mandarynse weergawe van die 1998-ballade “Reflection” uit die Disney-fliek Mulan gesing en “A Love Before Time” opgeneem as deel van die klankbaan vir ʼn Oosterse gevegskunsfliek, Crouching Tige, Hidden Dragon, onder regie van Ang Lee.

Sy het by die 2001 Academy Awards die liedjie gesing wat vir die Beste Oorspronklike Liedjie genomineer is. Sy was die eerste sangeres van Chinese afkoms wat op die Oscars-verhoog opgetree het, aldus Warner Music China.

Lee het in 1999 haar eerste vollengte Engelstalige album, Just No Other Way, uitgegee. Die liedjie “Before I Fall in Love” van dié album is gekies as die temalied vir Richard Gere en Julia Roberts se fliek, Runaway Bride.

Lee het in haar laaste Instagram-plasing foto’s gedeel van tatoes op haar arms van die woorde “liefde” en “geloof”. “My twee gunstelingwoorde wat ek in my hart hou en waaraan ek desperaat vasklou om deur hierdie ongelooflike moeilike jaar te kom,” het sy in die plasing geskryf op die laaste dag van 2022.

“Jy is nie alleen nie, maak nie saak hoe moeilik die lewe word nie, ek is by julle,” het sy aan haar volgelinge geskryf.

Volgens haar susters was 2023 die “30ste herdenking van Coco se sangloopbaan”. “Ons is dankbaar dat God vir ons so ʼn goedhartige engel gegee het,” het hulle geskryf. “Alhoewel Coco nie vir lank in die wêreld was nie, sal haar ligstraal vir altyd bly voortbestaan.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.