Covid-19: Enigste Afrikaanse skole in Namibië in gedrang

Swakopmund in Namibië. (Foto: Grant Durr/Unsplash)

Die enigste Afrikaanse skole in Namibië is in gedrang weens die Covid-19-pandemie en gevolglike landwye afsondering.

Onderwyskenners het aan Maroela Media gesê die Privaatskool Moria in Outjo, Pro-Ed-akademie in Swakopmund, Tsumeb Gimnasium, Privaatskool Elnathan in Stampriet, Privaatskool Keetmanshoop en Windhoek Afrikaanse Privaatskool is ’n groot deel van hul inkomste kwyt sedert algehele landwye afsondering in Maart vanjaar in dié land ingestel is.

Dié skole is in die 1990’s sonder enige hulp van die staat op die been gebring en het al die jare met behulp van ’n skoolfonds voortbestaan. Dit is die enigste skole waar leerders in Afrikaans in Namibië onderrig kan word.

Die voortslepende droogte in Namibië en nou Covid-19 dreig egter om van dié skole se deure te sluit, aangesien ouers geweldige finansiële verliese gely het weens die afsonderingstydperk. Volgens Maroela Media se inligting bedryf die meeste ouers private ondernemings, boer of is werksaam in die toerisme of jagbedryf – bedrywe wat lamgelê word gedurende die algehele landwye afsondering.

As dié skole hul deure moet sluit, sal daar geen ander skool in Namibië vir leerders wees om in Afrikaans onderrig te word nie, waarsku die kenners nou.

Tsumeb in Namibië (Foto: Facebook)

Wouter Niehaus, hoof uitvoerende beampte van die Namibiese Privaatskole-organisasie (Napso) en uitvoerende hoof van Tsumeb Gimnasium, het vroeër vandeesweek aan Maroela Media verduidelik slegs 6% van ouers aan Namibiese Afrikaanse private skole werk nog in regeringsinstansies en is dus verseker van ʼn vaste inkomste.

Volgens Niehaus bedryf 68% van ouers hul eie ondernemings, van wie 48% van dié ouers direk betrokke is by boerdery of toerisme. Dié bedrywe het tot stilstand gekom weens die afsonderingsregulasies en baie ouers kan nie meer die skoolfonds bekostig nie.

“Ons was al vantevore in die moeilikheid, maar daar was nog altyd ouers in ’n sekere sektor wat nié so swaargetrek het nie en dus kon opmaak vir dié wat nie in staat was om die skoolfonds te betaal nie. [Die Covid-19-pandemie] is egter die eerste keer dat elke sektor waarby ouers betrokke is, onderdeur is.

“Dít is ’n eenmalige chaos wat losgebars het oor ons koppe,” sê Niehaus.

Windhoek Afrikaanse Privaatskool (Foto: Facebook)

Hy verduidelik dat dele van Namibië vir die afgelope ses jaar gebuk gegaan het onder droogte. Baie boere het toe noodgedwonge besluit om met wild te begin boer. Volgens Niehaus het dit net begin beter gaan met dié boere toe die nuwe koronavirus kop uitgesteek het en die algehele landwye afsondering in Namibië ingestel is.

Niehaus verduidelik dat sommige van die skole sedertdien salarisverminderings begin toepas het in ʼn poging om koste te bespaar, met afleggings as laaste moontlike uitweg.

Arno van Wyk, uitvoerende hoof van die Windhoek Afrikaanse Privaatskool, verduidelik dat dié skool genadiglik nog nie stappe van dié aard oorweeg het nie, hoewel salarisverhogings en bonusse nie in hierdie stadium ʼn opsie is nie. Alle vakante poste is ook vir eers gekanselleer.

Dié skool is die grootste van die ses Afrikaanse private skole in Namibië met 1 050 leerders. Die ander vyf skole het gemiddeld tussen 200 en 300 leerders van graad 1 tot matriek.

Van Wyk verduidelik dat die Windhoek Afrikaanse Privaatskool van ander sakemodelle gebruik maak om op alternatiewe maniere ʼn inkomste te genereer, hoewel hulle hoofsaaklik afhanklik is van die skoolfonds.

Keetmanshoop Privaatskool (Foto: Facebook)

Hy sê waar sowat 2,5% van ouers voorheen agterstallig was met die betaal van skoolgeld, is 14,7% van ouers in dié stadium agterstallig met hul kind se skoolfondsbydrae.

Volgens Van Wyk het Covid-19 die skool boonop R517 000 gekos om die nodige maatreëls soos maskers, plastiekskerms en handreiniger by die skool in te stel. Die skool moes ook oorskakel na aanlyn leermetodes. Daar was nie vir dié uitgawes begroot nie, verduidelik hy.

Piet O’Callaghan, uitvoerende hoof van Keetmanshoop Privaatskool, het gesê dat dié skool ook nog nie afleggings of salarisverminderings hoef te oorweeg nie, hoewel die voortbestaan van só ʼn skool ʼn bekommernis bly. Hy verduidelik dat sou dié skool sluit, die naaste Afrikaanse skool meer as 400 km verder in Upington in Suid-Afrika geleë is.

Volgens O’Callaghan sal dit boonop ʼn groot slag vir Keetmanshoop self wees. “Die skool hou die gemeenskap aan die gang. Dit sal ʼn groot uitwerking op ons dorp én ons taal hê.”

Hy verduidelik dat die behoud van Afrikaans juis een van die redes was waarom die ses Afrikaanse private skole destyds op die been gebring is.

Privaatskool Elnathan (Foto: Facebook)

Hugo Vermeulen, die hoof van opleiding by die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) en voorheen skoolhoof by die Privaatskool Moria en Privaatskool Elnathan, verduidelik dat die skole se leerders moontlik tuis onderrig kan word, sou die skole moet sluit. Hy wys egter daarop dat die gemiddelde huisgesin nie finansieel in staat daartoe is om leerders tuis te onderrig nie.

“As die ses skole moet toemaak, is dit nag. Daar is dus net een oplossing. Die skole móét oorleef.”

Vermeulen het verduidelik dat die SOS nou planne beraam om die betrokke ses Namibiese skole te help. Dié planne sal moontlik die opleiding van hul onderwysers en die stuur van leermateriaal insluit.

Die skole het egter geldelike hulp nodig om die wa deur die drif te trek, verduidelik Niehaus.

’n Krisisfonds is nou op die been gebring waar bydraes gelewer kan word. Besoek dié fonds hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.