Covid-19: Rekordgetal nuwe gevalle in Europese lande aangemeld

Passasiers by ʼn trein in Frankfurt, Duitsland (8 Oktober 2020) (Foto: AP Photo/Michael Probst)

Verskeie lande in Europa het die afgelope 24 uur rekordgetal nuwe Covid-19-gevalle bevestig met vrese dat ʼn tweede golf infeksies oorweldigend kan wees.

Pole

Pole het weer ʼn rekordgetal nuwe gevalle van Covid-19 aangemeld. Die ministerie van gesondheid het Donderdag gesê 4 280 nuwe gevalle is in die afgelope 24 uur aangemeld.

Dit volg een dag ná die vorige rekord van 3 003 gevalle bevestig is.

Pole het, sedert die aanvang van die pandemie, reeds minstens 111 599 gevalle aangemeld.

Nog 76 Covid-19-verwante sterftes is Donderdag aangemeld en dit bring die dodetal op 2 867 te staan.

Duitsland

Duitsland het die afgelope 24 uur meer as 4 000 nuwe Covid-19-gevalle aangemeld.

Senior gesondheidsbeamptes het Donderdag gewaarsku die tweede golf kan baie erger wees as dit wat die land reeds beleef het.

Jens Spahn, die minister van gesondheid, het gesê die jongste getalle is “kommerwekkend”. “Ek is baie besorg. Ons wil voorkom dat die getalle eksponensieel toeneem,” het hy aan verslaggewers in Berlyn gesê. Hy hou vol dat die Duitse gesondheidstelsel steeds die huidige situasie kan hanteer.

Die Robert Koch-instituut (RKI) het bevestig Donderdag se getalle is sowat 1 200 meer as die vorige dag en dui daarop dat Duitsland die vlak nader toe die land die piek van die pandemie teen die einde van Maart en vroeg in April beleef het, toe sowat 6 000 nuwe gevalle daagliks aangemeld is.

“As 80 miljoen mense saamwerk, sal die virus se kanse dramaties verklein,” het Spahn bygevoeg.

Lothar Wieler, president van RKI, is nie so optimisties nie. “Ons weet nie hoe die situasie oor die volgende paar weke in Duitsland gaan ontwikkel nie. Dit is moontlik dat ons meer as 10 000 nuwe gevalle daagliks kan aanmeld. Dit is moontlik dat die virus onbeheersd kan versprei.”

Susanne Herold, ʼn spesialis in aansteeklike siektes by die Giessen-universiteitshospitaal, het ook gesê Duitsland kan moontlik ʼn punt bereik waar hospitale oorweldig word deur erge Covid-19-gevalle. “Ons tref voorbereidings vir ʼn nuwe golf pasiënte wat ernstig siek is,” het sy gesê.

Spahn doen ʼn beroep op inwoners om die kwessie in ʼn ernstige lig te beskou “sodat ons nie in só situasie beland nie”. Hy benadruk die belangrikheid van higiëne soos die dra van ʼn masker, om gereeld hande te was en sosiale distansiëring van 1,5 m te handhaaf. Hy voeg by groot byeenkomste kan ook tot uitbrekings lei.

Minstens 310 144 persone het reeds Covid-19 opgedoen en die dodetal staan op 9 578, aldus RKI.

Oostenryk

Owerhede in Oostenryk het Donderdag 1 209 nuwe gevalle aangemeld – ʼn hoër getal as tydens die land se vorige piek teen die einde van Maart. Sowat helfte van die nuwe gevalle is in die hoofstad Wene aangemeld.

Die getal aktiewe gevalle het binne die afgelope maand meer as verdubbel tot ongeveer 10 000 pasiënte.

Rudolf Anschober, die minister van gesondheid, het gesê Oostenryk is in ʼn moeilike situasie, maar hy het gemaan dat Donderdag se syfer nie met Maart sʼn vergelyk kan word nie, omdat minder mense in daardie stadium vir die virus getoets is.

Gevalle het toegeneem ondanks strenger veiligheidsmaatreëls wat die regering ingestel het.

Ierland

Ierland se nasionale gesondheidsnoodspan (NPHET) sal na verwagting Donderdag vergader te midde van kommer oor ʼn toename in Covid-19-gevalle in die land.

NPHET het Woensdagaand 611 nuwe gevalle en vyf nuwe Covid-19-verwante sterftes aangemeld. Die groep waarsku dat Ierland teen 7 November tussen 1 100 en 1 500 nuwe gevalle daagliks kan verwag.

Die span sal na verwagting weer die regering aanraai om strenger beperkings toe te pas om die verspreiding van die virus te voorkom.

Dit kom dae ná die Ierse regering die NPHET se aanbeveling, om weer die strengste vlak 5-maatreëls in te stel, verwerp het. Die regering het besluit om eerder die ligter vlak 3-beperkings toe te pas. Onder vlak 3-beperkings mag persone nie buite hul distrik reis nie, maar polisiebeamptes het geen mag om dit af te dwing nie.

Die vergadering kom ʼn dag ná ʼn bykomende 828 gevalle in Noord-Ierland aangemeld is. Met die infeksiekoers selfs hoër in Noord-Ierland en talle persone wat die grens daagliks oorsteek vir werk, opleiding en toerisme, is daar versoeke dat strenger maatreëls reg oor die eiland ingestel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Dirk Mostert ·

https://off guardian.org/2020/10/08/WHO (accidentally) confirms covid is no more dangerous than Flu. Is hierdie skakel “fluitjie blaas”?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.