Covid-19-samevatting: Belgiese prins toets positief ná partytjie

Prins Joachim van België (middel) (Foto: Twitter)

ʼn Belgiese prins het positief getoets vir Covid-19 nadat hy ʼn partytjie in Spanje bygewoon het gedurende dié land se algehele landwye afsondering.

Volgens ʼn woordvoerder van die Belgiese koninklike paleis het die 28-jarige prins Joachim Dinsdag die betrokke partytjie in die Spaanse stad Cordoba bygewoon.

Joachim, die Belgiese koning Philippe se susterskind, was een van 27 mense by die partytjie.

Spanje se regulasies bepaal egter dat slegs byeenkomste van 15 mense toegelaat word gedurende die land se algehele landwye afsondering.

Die Spaanse polisie het nou ʼn ondersoek van stapel gestuur en diegene wat beperkings oortree, kan moontlik met ʼn boete van €600 (sowat R11 690) tot €10 000 (sowat R194 844) beboet word, het die plaaslike polisie gesê.

Volgens die woordvoerder toon die prins tans matige simptome en is onder kwarantyn geplaas.

Prins Joachim is die jongste seun van prinses Astrid en tiende aanspraakmaker op die Belgiese troon.

Trump gekap oor WGO-besluit

Die Amerikaanse president Donald Trump praat Vrydag in Washington. (Foto: AP Photo/Alex Brandon)

Die Amerikaanse president Donald Trump is oor die naweek gekap nadat hy aangekondig het dat hy die VSA se verbintenis met die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) beëindig.

Die Europese Unie het nou ʼn beroep op Trump gedoen om dié besluit te heroorweeg terwyl Duitsland se minister van gesondheid, Jens Spahn, dit as ʼn “teleurstellende terugslag vir internasionale gesondheid” bestempel het.

Op tuisbodem het die voorsitter van die Amerikaanse senaat se gesondheidskomitee, Lamar Alexander, gesê dit is nie ʼn goeie tyd om die land se verbintenis met die WGO te beëindig nie.

“ʼn Ondersoek moet beslis ingestel word na die foute wat die WGO moontlik in verband met die koronavirus gemaak het, maar die tyd om dit te doen is ná die krisis, nie in die middel daarvan nie,” het Alexander gesê.

Maroela Media het vroeër berig Trump beskuldig die WGO daarvan dat hy nie Beijing verantwoordelik hou vir die Covid-19-pandemie nie. “China het algehele beheer oor die Wêreldgesondheidsorganisasie,” het die president gesê terwyl hy maatreëls aangekondig het om spesifiek Beijing te straf.

Die VSA was die grootste enkele finansierder van die WGO en het verlede jaar $400 miljoen aan die organisasie betaal. Volgens Trump sal dié geld nou na ander liefdadigheidsorganisasies vir openbare gesondheid herlei word.

Latyns-Amerika die nuwe episentrum

Pasiënte word Maandag vir Covid-19 in ‘n veldhospitaal in Manaus in Brasilië behandel. (Foto: Felipe Dana, AP)

Volgens dr. Marcos Espinal, direkteur van oordraagbare siektes by die Pan American Health Organization, blyk Latyns-Amerika die nuwe episentrum van die nuwe koronavirus te wees met byna een miljoen bevestigde gevalle en meer as 50 000 sterftes tot op hede aangemeld.

Lande soos Brasilië, Chili, Mexiko en Peru gaan veral gebuk onder Covid-19.

Brasilië is naas die VSA die land met die meeste gevalle van Covid-19 (499 966) met 28 849 sterftes tot op hede aangemeld. Peru het op sy beurt reeds 155 671 bevestigde gevalle van die nuwe koronavirus aangemeld.

Altesaam 4 371 pasiënte in dié land het tot dusver weens Covid-19 gesterf.

In Chili is 94 858 bevestigde gevalle reeds aangemeld. Dié land se dodetal staan nou op 997 en in Mexiko het 87 512 mense positief getoets vir Covid-19 van wie 9 779 reeds weens die virus gesterf het.

Bronne: BBC, Sky News, Aljazeera

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Willem ·

Trump doen die regte ding. Die VSA het US$450 miljoen verlede jaar tot die WGO bygedra teenoor China se 40miljoen. Ten spyte daarvan het China soveel invloed in dié organisasie dat ‘n persoon wat nie eens ‘n mediese kwalifikasie het nie as die hoof uitvoerende beampte aangestel is. En hy het China gehelp om die waarheid oor die Wuhanvirus so lank as moontlik te verdoesel. Nee wat, die sosialiste, kommuniste, eenwêreld-multikulti en ander liberaliste haat Donald Trump met ‘n passie maar hy is besig om die stryd vir nasionalisme en patriotisme te stry. Al wat mens hoef te doen is om na Suid-Afrika te kyk as jy wil sien wat gebeur as jy daardie stryd verloor.

Lorette ·

Willem, stem 100% saam met jou, ek wil van China niks meer hoor nie en sal nie weer by een van hul massa winkels hier in Kimberley instap nie. Net jammer dat ons materiaal ook vanaf China ingevoer word, want ek is mal oor materiaal, maar agv hul goedkoper goed, moes van SA se materiaalfabrieke toemaak.

Lorette ·

Jammer, mense moet my nou maar stenig, maar alhoewel ek nie van Trump hou nie, stem ek saam met hom dat hul alle steun aan WGO onttrek. Ek hou China verantwoordelik dat hulle nie aan die begin openlik met mense en ander lande was nie. Elke item wat ek nou gebruik, kyk eers wat China se aandeel daaraan was voor ek koop. Net jammer ek kan dit nie met lap ook doen nie! Ek hoop Trump hou by sy belofte om hul bydrae aan WGO nou vir ander liefdadigheid te gebruik. SA is al klaar in China se sak!

Yolandie ·

Ek was self nie ‘n aanhanger van Trump nie maar wat nou op dié oomblik daarby hulle aangaan het my oë oopgemaak en ek het my siening hom verander… Hy doen die regte dinge en mense gaan nog dankie sê vir hom.

Alleen Wolf ·

Welgedaan Pres Trump, tyd dat die korrupte spul by die WGO in die bek geruk word, en ek hoop jy vat China ook behoorlik aan, hulle en die WGO het verwoesting in die wereld gesaai.

Anel ·

Ek stem saam met pres Trump. Hulle gee die meeste maar wat se voirdeel trek hulle daaruit. Hy gaan nou die geld vir sy eie burgers gebruik. As die ander lande net soveel gee as die VSA us dit ander storie. Almal staan net bakhand en as hulle nie tevrede is nie byt hulle die hand wat hulle voer. Net soos hier by ons, behalwe dat alles vernietig word, brand en breek.

Jan ·

Met die hoeveelheid geld wat hy vir die who gee kan hy sy eie health inst. Stig A H O

Theo ·

Trump is 100% korrek! Daar is duidelike bewyse dat die WGO die waarskuwings en fluitjieblasers geïgnoreer het en tot te laat gewag het om alarm te maak. Hopenlik betaal China ook ‘n groot prys vir hulle misdaad teenoor die mensdom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.