Covid-19-samevatting: In dié lande neem gevalle toe; ander verslap maatreëls

‘n Hawelose rus op ‘n bankie voor die Bolshoi-teater in Moskou, Rusland, Foto: (AP Photo/Alexander Zemlianichenko)

Spanjaarde het Saterdag vir die eerste keer in sewe weke die strate ingevaar met lande in die weste van Europa wat begin het met die geleidelike verslapping van afsonderingsregulasies te midde van die Covid-19-pandemie.

In Rusland en Pakistan is egter groot eendagstygings in nuwe infeksies aangekondig, ʼn teken dat die pandemie ver van verby is. Kommer heers in Moskou dat hospitale moontlik oorweldig kan word nadat Rusland in een dag 9 633 nuwe Covid-19-gevalle aangemeld het.

Rusland het nou ʼn totaal van 124 054 bevestigde Covid-19-gevalle en 1 222 sterftes. Meer as 15 000 mense het reeds van die virus herstel.

Mense bid in ‘n moskee in Peshawar, Pakistan. Foto: (AP Photo/Muhammad Sajjad)

Pakistan het 1 297 nuwe gevalle aangemeld. Daar is nou meer as 18 000 Covid-19-gevalle in dié land met ʼn bevolking van meer as 220 miljoen. Volgens die regering is daar in die afgelope 24 uur meer as 9 000 toetse uitgevoer. Eerste minister Imran Khan wil hê daar moet daagliks sowat 20 000 toetse gedoen word.

Afrika het nou meer as 40 000 bevestigde Covid-19-gevalle, met meer as 1 600 sterftes op die kontinent aangemeld. Die virus het na al die lande in Afrika behalwe Lesotho versprei.

In Spanje, een van die lande wat sover die ergste deur die Covid-19-pandemie getref is, is begin om noodmaatreëls te verslap wat ingestel is in ʼn poging om die pandemie te bekamp. Spanje het meer as 213 000 bevestigde Covid-19-gevalle en meer as 24 500 sterftes. Sedert Spanje se afsonderingstydperk op 14 Maart in werking getree het, mag net volwassenes hul huise verlaat het om kos, medisyne en ander noodsaaklike goedere te koop. Hulle mag ook naby hul huise met hul honde gaan stap het.

Mense oefen op ‘n promenade in Barcelona, Spanje. Foto: (AP Photo/Emilio Morenatti)

Beperkings is van Saterdag af verslap en mense het die strate van Barcelona ingevaar om te stap, draf en fiets te ry. Die regering het tydgleuwe ingestel vir verskillende ouderdomsgroepe en vir verskillende aktiwiteite met sosialedistansiëringsmaatreëls wat steeds geld. Maatreëls sal volgens provinsie verslap word afhangend van die aantal gevalle en gesondheidshulpbronne.

Duitsland het meer as 164 000 bevestigde Covid-19-gevalle en meer as 6 700 sterftes. Daar is streng sosialedistansiëringsmaatreëls ingestel, maar mense is nooit verbied om buite te oefen nie. Kleiner winkels het ook reeds hul deure weer oopgemaak en speelterreine, museums en dieretuine het ook die naweek weer vir die publiek oopgemaak.

Polisiebeamptes staan gereed midde betogings wat Vrydag in Hamburg, Duitsland plaasgevind het. Foto: (Axel Heimken/dpa via AP)

In China, waar die pandemie in Desember begin het, is ʼn enkele nuwe Covid-19-geval Saterdag aangemeld. Suid-Korea het ses nuwe gevalle aangemeld.

Die virus het wêreldwyd reeds meer as 239 000 lewens geëis en meer as 3,3 miljoen mense besmet. Amerika het meer as 1,1 miljoen bevestigde Covid-19-gevalle, gevolg deur Spanje, Italië en Frankryk. Die meeste sterftes (meer as 65 000) is in die VSA aangemeld, gevolg deur Italië (meer as 28 000) en meer as 27 000 sterftes in die Verenigde Koninkryk.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

katerinadiekat ·

En daar is seker nie een ander land waar sigaret verkope verban is nie!!

Johan ·

Net nog bewys van hoe swak regering ons het. Ek is net nogal verbaas oor hoe bang sommige mense in SA is, dink die hoofstroom media is te blameer vir die paniek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.