Dagvaardings kom ná lansering van wêreld se grootste vuurpyl

Só lyk SpaceX se lanseringsplatform in Texas ná die lansering van Starship. (Foto: Patrick T. Fallon / AFP)

Amerikaanse bewaringsgroepe het Maandag aangekondig dat hulle die Amerikaanse Federale Lugvaartowerheid (FAA) gaan dagvaar omdat die owerheid glo nie genoeg gedoen het om die omgewing teen SpaceX se Starship-program te beskerm nie.

Starship, die kragtigste vuurpyl nóg gebou om ruimtevaarders na die maan en Mars te stuur, is verlede maand van SpaceX se lanseringsplatform in die Amerikaanse deelstaat Texas gelanseer, net om minute later te ontplof.

Groot skade is in die proses aan die platform en omliggende gebiede aangerig.

Die Sentrum vir Biologiese Diversiteit sê nou die lanseringsplatform is langs ’n lewensbelangrike habitat vir beskermde spesies, waaronder die strandkiewiet, geleë.

Die FAA het vroeër ’n lisensie aan SpaceX toegeken om 20 ruimteskepe per jaar vir vyf jaar te lanseer op voorwaarde dat Elon Musk se maatskappy die plantegroei en natuurlewe met behulp van ’n gekwalifiseerde bioloog monitor.  Dié monitering sluit in ’n opname voor en ná ’n lansering.

Amerikaanse bewaringsgroepe sê egter hierdie versagtingsmaatreëls is nie genoeg nie.

“Dit is noodsaaklik dat ons lewe op aarde beskerm, selfs al kyk ons na die sterre in hierdie moderne era van ruimtevaart,” sê Jared Margolis, ’n senior prokureur by die Sentrum vir Biologiese Diversiteit. Die organisasie is deel van die regsgeding.

“Federale amptenare moet kwesbare natuurlewe en gemeenskappe beskerm, nie ’n vrypas aan korporatiewe belange gee wat kosbare kuslandskappe as ’n stortingsterrein vir ruimteafval wil gebruik nie.”

Die toetsvlug het volgens die Amerikaanse vis- en wildlewediens ’n brand van sowat 1,5 hektaar in die Boca Chica-staatspark, suid van die lanseerplatform, veroorsaak.

Die sluiting van die Boca Chica-strand weens die toetsvlug het glo ook ’n nadelige uitwerking op die Carrizo‑Comecrudo-gemeenskap aangesien hulle nie met tradisionele seremonies op hul heilige land kon voortgaan nie. Die inheemse groep is ook deel van die regsgeding.

Maroela Media het vroeër berig daar kan in ʼn video van verlede maand se lansering gesien word hoe ʼn rommelreën tot by die Golf van Mexiko, meer as 420 m weg, geblaas word. ʼn Stofwolk het ook ná die lansering oor ʼn klein dorpie ʼn paar kilometer daarvandaan gehang.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jaco ·

Ten minste bereik elon musk iets. As hy in sy geboorteland, dié anti-wit SA, gebly het, sou sy besigheidsplanne om elke hoek en draai teen mure van BEE en regstellende aksie vasgeloop het.

Hennie ·

Ek wonder hoeveel besoedeling hierdie lanserings vrystel, en waarvoor? Mors van tyd en geld….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.