‘Denemarke se prinses Kate’ nou koningin in eie reg

Mary, die koningin van Denemarke. (Foto: Marie Odgaard / Ritzau Scanpix / AFP)

Met hul verlowingsaankondiging in 2004, is prins Frederik, die voormalige kroonprins van Denemarke en Mary Donaldson, sy Australies gebore verloofde, deur duisende wapperende Deense én Australiese vlae op die balkon van die Amalienborg-paleis in Kopenhagen, Denemarke, toegejuig.

“Ek sal die rol [as toekomstige koningin] vervul op ʼn manier wat spesifiek aan my as mens is, en ek gaan my absolute bes gee. Vir party sal dit genoeg wees en vir ander moontlik nie. Ek sal dalk ʼn klein ‘Aussie’-geur ook daarby voeg,” het die voornemende prinses dieselfde dag aan Australiese media gesê.

Twintig jaar later is die donkerkopskoonheid ná koningin Margrethe II se abdikasie nie net die pasgekroonde Deense koningin nie, maar ook een van die wêreld se gewildste, moderne koninklikes.

Mary geniet gewone grootwordjare, maar ook groot verlies

Die 51-jarige koningin is in Hobart, die hoofstad van die Australiese deelstaat Tasmanië, aan Skotse ouers, Henrietta en John Dalgleish Donaldson, gebore, en het tussen Australië en die VSA grootgeword.

Sy het in die 1990’s ʼn suksesvolle loopbaan in reklame in die Verenigde Koninkryk en Australië gehad ná haar tyd aan die Universiteit van Tasmanië, waar sy haar graad in handel en regte voltooi het.

Haar ma, ʼn voormalige wiskundige, is egter in 1997 dood ná komplikasies met hartoperasies, en het nie geleef om te sien hoe haar dogter prins Frederik ontmoet en haar sprokieslewe uitleef nie.

“Ek was 26. Dit het te vroeg gebeur,” het Mary in 2014 in ʼn openhartige onderhoud aan die Australiese tydskrif, Women’s Weekly, oor haar ma se afsterwe gesê.

“My ma het my beslis geleer om onafhanklik te wees, myself te vertrou en in myself te glo. My hoop is dat sy vandag trots sou wees op die vrou wat ek geword het.”

Mary laat sogenaamde partytjieprins bedaar

Die koningin het haar toekomstige man, toe nog bekend as kroonprins Frederik, in 2000 ontmoet tydens die Olimpiese Spele in Sydney, Australië, en aanvanklik na bewering nie besef dat hy ʼn koninklike is nie.

“Die eerste keer wat ons ontmoet het, het ons blad geskud,” het sy destyds oor hul bekendstelling aan mekaar gesê.

“Ek het nie geweet hy is die prins van Denemarke nie. ʼn Halfuur later het iemand na my toe gekom en gesê: ‘Weet jy wie hierdie mense is?’ ”

Die paartjie het drie jaar lank ʼn langafstandverhouding, uit die mediakollig, geniet en is in 2004 getroud.

Die voormalige prinses en prins in 2004. (Foto: Keld Navntoft, Keld Navntoft/Ritzau Scanpix/AFP)

“Sy het Frederik leer ken en liefhê as die man wat hy is, nie as die kroonprins nie,” het Mary se vriend Chris Meehan later aan die skrywers van die boek, Mary, kroonprinses van Denemarke, gesê.

Frederik, ʼn voormalige rebelse tiener wat in die 1990’s naamgemaak het as ʼn partytjieprins, en sy vrou vier vanjaar hul twintigste huweliksherdenking – met kenners wat Mary krediet gee vir die impak wat sy op haar man se gewildheid deur die jare gehad het.

Die paartjie het vier kinders, prins Christian (18), prinses Isabella (16) en die tweeling, prins Vincent en prinses Josephine (13).

“Ek is lief vir die huwelik, my vrou, ons kinders en die hele gelukkige basis wat ontstaan ​​vir die mense wat dit regkry om saam te bly en te volhard,” het die koning in sy nuut gepubliseerde boek, The King’s World, gesê.

Later in die boek bespreek die koning ook sy geloof en sê dat hy en Mary elke aand saam met hul kinders bid. Hy bieg ook dat sy wyle pa, prins Henrik van Denemarke, “baie patriargaal” was en dieselfde houding aan hom en sy broer, prins Joachim, probeer oordra het.

“Ek het soveel geleer deur ʼn vrou te hê wat my gereeld herinner dat ek natuurlik nie altyd reg is nie, en dat my woorde nie outomaties geglo word net omdat ek die man in die huis is nie.”

Modieuse Mary as “Deense prinses Kate” gedoop

Die stylvolle monarg word danksy haar donker lokke en modieuse styl met prinses Catherine van Wallis vergelyk.

Die koninklikes word gereeld in soortgelyke uitrustings gekiek en daar word beweer dat hul deur die jare ʼn noue band gevorm het danksy hul soortgelyke nederige, normale grootwordjare. Daarbenewens word beide geken aan hul sagmoedigheid en behoefte om aan hul kinders so normale kinderlewe as moontlik te bied.

Prinses Catherine van Wallis en koningin Mary. (Foto: Claus Bech/Ritzau Scanpix /AFP)

Nes prinses Catherine, is daar dikwels ook ʼn dieper betekenis agter die Deense koninklike se uitrustings.

Sy het ʼn elegante wit langmourok met sagte plooiing en ʼn dramatiese oor-die-skouer sleep deur die Deense ontwerper, Soeren Le Schmidt, vir haar en Frederik se onlangse kroningseremonie gekies.

Die wit skepping is met ʼn sierlike borsspeld met wit en rooi steentjies afgerond, wat volgens modekenners die rooi en wit Deense vlag simboliseer.

Die nuwe koningin het ook hulde aan haar skoonma gebring met ʼn borsspeld wat ʼn illustrasie van die voormalige koningin bevat.

“Aussie koninklike” kruip vinnig in Deense harte

Die voormalige prinses het destyds beïndruk met hoe vinnig sy die Deense taal aangeleer het en ontvang gereeld lof vir die sake waarop sy graag haar koninklike kollig plaas soos vroue- en kinderregte.

Sy is ook bekend vir haar werk om afknouery, gesinsgeweld en sosiale isolasie te beveg, asook om geestesgesondheid te bevorder.

Daar word selfs dikwels in Europese en Deense media geskerts dat die koningin in party kringe selfs meer geliefd onder Dene as haar gewilde man is.

“Sommige mense dink my man lewe ʼn bietjie in my skaduwee, want ek is dikwels in die kollig en ek het baie verpligtinge,” het sy in ʼn 2017 in ʼn gemagtigde biografie van prins Frederik gesê.

“Maar hy sal nooit in my skaduwee wees nie, en ek sal nooit in sy skaduwee wees nie, want hy weerkaats sy lig op my,” het sy oor die paartjie se gelyke verhouding gesê.

Toekoms lyk blink

Hoewel koningin Mary en haar man veral danksy koningin Margrethe II se invloed hul heerskappy met hoë steunvlakke afskop, meen kenners dat sy in eie reg reeds bewys het dat die Deense kroon met gerusstelling op haar kop geplaas kan word.

“Vir die byna 20 jaar wat sy lid van die koninklike familie is, het die voormalige kroonprinses haar rol as woordvoerder en publisiteitsbeampte vir die Deense koninklike familie, Denemarke en haar gekose sake verbreed en vervolmaak,” het Berlingske, ʼn Deense dagblad, onlangs geskryf.

“Nou is dit haar en koning Frederik X se geleentheid om in hul uitdagende rolle as monarge in ʼn moderne, veranderende wêreld te floreer.”

Bronne: BBC, Vogue, The Independant, Women’s Weekly, AFP, People.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.