Dié jong prinsesse skuif krone reg om Europa te lei

(Foto’s: Instagram/Juanjo Martin/AFP)

Europa sal ná die abdikasie van Denemarke se koningin Margrethe II nie lank sonder ʼn heersende koningin gelaat word nie.

ʼn Rits jong prinsesse in lande soos Spanje, Nederland, België, Noorweë én Swede begin hul krone stadig maar seker regskuif om in komende jare op trone regoor dié vasteland te sit.

Baie sal selfs die eerste vrou wees om die koninklike voortou in hul lande te neem ná die instelling van vroulike opvolgwette – ʼn voorreg wat voorheen vir manlike erfgename gereserveer is.

Lisa Castro, ʼn koninklike historikus aan die Universiteit van Toulouse-Jean Jaures in Suid-Frankryk, het aan AFP gesê dat hoewel daar groot opwinding oor Europa se toekomstige koninginne is, hul dikwels gaan worstel met dieselfde vrae en uitdagings waarmee hul voorvaders gekonfronteer is – veral rakende hoe relevant hul plek in ʼn moderne wêreld is.

ʼn Ingesteldheid teenoor kwessies soos vroueregte of omgewingskwessies sal volgens Castro ʼn belangrike instrument wees om die publiek se deurlopende steun te verseker.

Die volgende generasie blyk volgens haar “in die beste posisie te wees om op verwagtinge oor hierdie onderwerpe te reageer”, veral danksy die moderne, meer informele maniere waarop baie van hulle grootgemaak is.

“Daar is reeds deur baie van die prinsesse se ouers ʼn presedent geskep om meer kontemporêre sake aan te pak, hulle verstaan dus ​​die behoeftes en die uitdagings van hul tyd”.

Hier is van Europa te toekomstige koninginne:

Prinses Leonor van Spanje (19)

Die prinses en haar gesin; koning Felipe VI, koningin Letizia en prinses Sofia. (Foto: Juanjo Martin/AFP)

Koninklike ondersteuners hoop dat die jong, fotogeniese Leonor nuwe lewe in die Spaanse koninklike familie kan blaas.

Dié familie is die laaste paar jaar geteister deur verleenthede rondom haar oupa, die voormalige Spaanse koning, Juan Carlos, wat in 2014 geabdikeer het en sedert 2020 in selfopgelegde ballingskap in Abu Dhabi woon te midde van ondersoeke na sy geldsake.

Prinses Leonor se ouers, koning Felipe VI and koningin Letizia, geniet volgens ʼn onlangse YouGov-peiling gematigde guns van Spanjaarde. Haar ma, ʼn voormalige joernalis, word dikwels ook vir haar stylvolle uitrustings gekiek.

Die blonde prinses het onlangs drie jaar se militêre opleiding by ʼn akademie in die noordoostelike stad van Zaragoza begin, waarna sy haar universiteitstudies sal voortsit.

Sy is vlot in Spaans, Frans en Katalaans.

Wanneer sy die troon bestyg, sal Leonor Spanje se derde volwaardige koningin word ná Joanna van Kastilië in die 16de eeu en Isabella II in die 19de eeu.

Prinses Ingrid Alexandra van Noorweë (20)

Prinses Ingrid Alexandra is die tweede opvolger vir die Noorse troon naas haar pa, kroonprins Haakon, en oupa, koning Harald V.

Haar ma, kroonprinses Mette-Marit, het ʼn ouer seun, Marius Borg Høiby, uit ʼn vorige verhouding wat nie deel is van die monargie se opvolgingslyn nie.

Die Deense bevolking het Mette-Marit weens die aard van haar eerste verhouding nie dadelik met ope arms verwelkom nie, maar sy het veral guns gewen ná die geboorte van Ingrid.

Koning Frederik X, die nuwe Deense koning, is een van haar peetouers.

Nes Spanje se prinses Leonor, het Ingrid onlangs met haar militêre opleiding begin. Die toekomstige koningin is ook gaande oor sport, veral branderplankry.

Sy sal die eerste Noorse koningin in byna 600 jaar wees.

Prinses Catharina-Amalia van Nederland (20)

Die Nederlandse koninklike gesin. (Foto: Instagram/@koninklijkhuis)

Catharina-Amalia is die oudste kind van koning Willem-Alexander en koningin Máxima van die Nederlande, en sy het twee jonger susters, prinses Alexia en prinses Ariane.

Sy het die amptelike troonopvolger van die Nederlandse troon geword toe haar pa die troon op 30 April 2013 bestyg het. Haar amptelike titel is prinses Catharina-Amalia, prinses van Oranje.

Sy was as dogtertjie blommemeisie by kroonprinses Victoria van Swede se troue.

Die toekomstige koningin is tans in haar tweede jaar aan die Universiteit van Amsterdam waar sy politiek, sielkundige reg en ekonomie studeer.

Haar besluit om haar jaarlikse koninklike inkomste van £1,4 miljoen (R33, 5 miljoen) per jaar van die hand te wys totdat sy eendag as werkende koninklike optree, is deur kenners as “dapper” bestempel.

Die prinses het destyds in die media gesê dat sy “ongemaklik voel” om só groot bedrag as student te ontvang, terwyl ander sukkel om hul studies te betaal.

Nes baie ander koninklikes, het sy deur haar grootwordjare kritiek aanlyn en in die media trotseer – veral rakende haar voorkoms. Die Portugese tydskrif Caras is veral gekritiseer vir ʼn voorbladberig waarin hul die prinses as ʼn “plus-grootte vrou” bestempel het.

Prinses Elisabeth van België (22)

Prinses Elisabeth, die hertogin van Brabant, sal eendag geskiedenis maak en België se eerste vroulike monarg word danksy wetgewing wat in 1991 verander is om voorkeur aan manlike troonopvolgers te beëindig.

Haar pa, koning Philippe, is tans die heersende monarg.

Dié slimkop prinses studeer tans geskiedenis en politiek aan die Oxford Universiteit se Lincoln Collage en het ook reeds haar militêre diens voltooi.

Sy is vlot in Duits, Nederlands, Frans en Engels, en was ook die eerste Belgiese koninklike om haar skoolopvoeding in Duits eerder as Frans te begin.

Kroonprinses Victoria (46) en haar dogter, prinses Estelle (12)

Kroonprinses Victoria is die oudste kind van koning Carl XVI Gustaf en sy vrou, koningin Silvia.

Alhoewel sy ʼn jonger broer, prins Carl Philip, het, het haar plek as erfgenaam formeel in 1980 in werking getree met die parlementêre verandering aan die Sweedse erfopvolgingswet.

Dít beteken dat haar dogter, die twaalfjarige prinses Estelle, in haar ma se voetspore kan volg en ʼn regerende Sweedse monarg word.

Die kroonprinses is in 2009 met haar persoonlike afrigter, Daniel Westling, getroud. Wanneer sy koningin word, sal hy as die koning-gemaal van Swede bekendstaan.

Waar haar koninklike voorouer, die Britse koningin Victoria, destyds bekend was as die “grootouer van Europa” danksy haar kinders se huwelike met Europese koninklikes, is kroonprinses Victoria bekend as die “peetma van Europa”.

Sy is tans die peetouer van meer as 18 kinders, waarvan baie Europese koninklikes is.

Die toekomstige koningin is nes haar pa en jonger broer dislekties, en het al openhartig oor haar stryd met eetversteurings gesels.

Bronne: AFP, People, Hello!, Vogue, Tatler.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

Maar ek hou tog van die Spaanse niggie. Sy hou van boeremusiek en is mal oor Bles Bridges.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.