Dié lande steeds koronavirusvry

Argieffoto van wêreldkaart ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Daar is tans meer as 15 miljoen bevestigde gevalle van Covid-19 reg oor die wêreld heen aangemeld, met 213 lande wat tans deur die pandemie geraak word.

Terwyl sommige van dié lande reeds enkele miljoene gevalle van die virus aangemeld het, is daar lande wat nog nie ’n enkele geval van Covid-19 aangemeld het nie.

Aljazeera berig daar is tans 12 lande reg oor die wêreld wat ses maande ná die uitbreking van Covid-19 daarin kon slaag om steeds koronavirusvry te wees.

Dié lande sluit in Kiribati, Marshall-eilande, Mikronesië, Nauru, Noord-Korea, Palau, Samoa, die Salomonseilande, Tonga, Turkmenistan, Tuvalu en Vanuatu.

Noord-Korea beskik oor ʼn bevolking van meer as 25 miljoen, terwyl Kiribati, wat in die sentrale deel van die Stille Oseaan geleë is, maar 119 571 landsburgers het, aldus die barometer Worldometer se statistieke.

Mikronesië, wat uit duisende klein eilande bestaan, is in die weste van die Stille Oseaan geleë en het ʼn bevolking van 549 273.

Terwyl dié 12 lande nog nie een geval van Covid-19 aangemeld nie, het 4,1 miljoen pasiënte in die VSA reeds positief getoets vir Covid-19. Minstens 147 333 het reeds weens die virus gesterf. Met ʼn bevolking van meer as 328,2 miljoen, het dié land tans die meeste gevalle van Covid-19 ter wêreld, gevolg deur Brasilië.

Volgens Worldometer se statistieke het altesaam 2 289 951 mense in Brasilië (bevolking van meer as 209,5 miljoen) reeds die koronavirus opgedoen, gevolg deur Indië (bevolking van meer as 1,353 miljard) met 1 288 130 bevestigde gevalle van Covid-19.

Indië se dodetal staan tans op 30 645. Minstens 84 207 pasiënte het tot op hede in Brasilië aan Covid-19 omgekom.

Volgens Worldometer het Suid-Afrika (bevolking van meer as 58 miljoen) tans die vierde meeste gevalle ter wêreld met 408 052 bevestigde Covid-19-gevalle.

Altesaam 9 544 827 pasiënte wêreldwyd het egter reeds van Covid-19 herstel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Prikkie ·

Wat van Saint Helena eiland?

Is hulle nie ook virusvry nie?

Sharnelle ·

Hierdie getalle klim vinniger as die JSE. Ek lees ook niks van plekke soos Viëtnam, Miami ensovoorts nie. Dis meer die bekende wereld lande wat meeste van gehoor en gelees word.

Jaco ·

Miami is n stad in die VSA wat n welbekende land is, en hulle gevalle is heelwat.

JJ ·

Ja, en in Atlanta, VSA het goewerneur DeSantis gister sy kommer uitgespreek oor die akkuraatheid van Covid-19 toetsuitslae. Dit nadat dit aan die lig gekom het dat mense wat nog NOOIT getoets is nie, in kennis gestel is dat hulle uitslae vir Covid-19, positief getoets het.

Erens is daar ‘n groot skroef los.

Kobus ·

Wat van die Mense wat 35 dae lank op see was nadat hulle kwarentyn gedoen het en almal negatief getoets het, nou ewe skielik is amper al die bemanning siek van die Covid !

Vriendelike Frikkie ·

Ons lê darem nog 5de op die ranglys. Gee kans, ons sal seker so êrens in Augustus posisie 4 beklee.

Johann ·

Indie se bevolking 1, 353 Miljard? Is dit nie moontlik 1,353 Biljoen nie?

Lourens CFG ·

Vat enige 3 getalle en Goegel dit met “new cases” agter aan.
M.a.w. “xxx new cases”, en kyk wat kry jy.

Miskruier ·

Sodra daar buite die lande se grense beweeg word , sal hul dit ook kry. Die virus is hier, aanvaar dit sal nooit weer verdwyn en gaan aan met jou lewe.

Tjaart ·

Ek is seker daar is geen gevalle in Noord-Korea nie. ????????

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.