Die week in foto’s

Frankryk: ʼn Foto van verskietende sterre is op 13 Augustus in Fontainebleau, suid van Parys, geneem. Dié skouspel het hom tydens die Nuits des étoiles (Sterrenag), ’n groot jaarlikse viering vir sterrekunde-entoesiaste, afgespeel. Sedert 1991 word Nuits des étoiles deur vrywillige sterrekundiges georganiseer. Die tema van vanjaar se Sterrenag is Hemelstof en word deur die Franse Vereniging van Astronomie en meer as 250 klubs, verenigings, planetariums en stadsale georganiseer. (Foto: Miguel Medina/AFP)

Kanada: Veldbrande het op 13 Augustus in die dorp Fort Smith uitgebreek. Honderde mense is Maandag en Dinsdag deur middel van lugvervoer van afgeleë dorpies na veiligheid gebring nadat Yellowknife, die grootste stad in die streek, as ’n noodgebied verklaar is. (Foto: Handout/AFP)

Israel: ’n Lugfoto wat op 15 Augustus geneem is, wys hoe ʼn gedeelte van die Dooie See opgedroog het. Die lugfoto wys patrone wat deur gekristalliseerde minerale en sinkgate op die oppervlak van die uitgedroogde gebied gevorm het. Die gebied is naby die suidelike gedeelte van die Israeliese Neve Zohar-oord geleë. Die Dooie See het sedert 1960 ’n derde van sy oppervlakte verloor en die blou water trek elke jaar sowat ’n meter verder terug. Wat oorbly, is ʼn maanagtige landskap, wit gevlek deur sout en deurtrek van yslike gate. (Foto: Menahem Kahana/AFP)

Indië: Sekuriteitspersoneel verwyder ʼn inwoner van die dorp Jadon se besittings nadat swaar reën ʼn grondstorting in die Solan-distrik in Indië se Himachal Pradesh-staat veroorsaak het. Die foto is op 14 Augustus geneem. Luidens berigte is 16 mense dood, nege van hulle in ’n tempel wat ineengestort het, en talle ander word vermis.  (Foto: AFP)

Australië: Australië se vrouespelers omhels mekaar nadat hulle die halfeindstryd van die 2023‑Wêreldbeker-sokkertoernooi vir vroue teen Engeland verloor het. (Foto: David Gray/AFP)

Oekraïne: Brandbestryders is besig om ʼn brand by ʼn supermark in Odessa te blus, ná ʼn lugaanval deur Rusland op 14 Augustus. (Foto: Handout/Ukrainian Emergency Service/AFP)

Nieu-Seeland: ’n Reënboog weerkaats op ’n plas water in Auckland op 12 Augustus. (Foto: Saeed Khan/AFP)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.