Die week in foto’s

Rusland: Die silhoeët van ʼn vliegtuig voor die maan, soos gesien op 4 Oktober in Moskou. (Foto: Yuri Kadobnov/AFP)

Sirië: ʼn Man loop verby ʼn brand wat naby die Zarba-olieaanleg in al-Qahtaniyah uitgebreek het. Turkse bomaanvalle op 5 Oktober naby die Koerdies beheerde streek Hasakeh in noordoostelike Sirië het ʼn motor getref en gevolglik twee mense gedood. Dit volg nadat Ankara met ʼn lugaanval gedreig het, in reaksie op ʼn vroeëre bomaanval. In nóg ʼn aanval het Turkse hommeltuie ʼn fabriek noord van Hasakeh geteiken en drie werkers is beseer. (Foto: Delil Souleiman/AFP)

Frankryk: ʼn Kunstenaar verkoop sy skilderye saans op die Petit Pont-brug in Parys. (Foto: Dimitar Dilkoff/AFP)

Nicaragua: ʼn Olyf-ridley-seeskilpad kom by die La Flor-wildtoevlugreservaat aan tydens die broeiseisoen in San Juan del Sur. Meer as 1 000 bedreigde seeskilpaaie het vroeg Donderdagoggend hier aangekom om hul eiers op die La Flor-strand in die Stille Oseaan te lê. Die skilpaaie kom verskeie kere per jaar hierheen vir broeiplek in die sand, sowat 149 km van Managua in die Rivas-streek. (Foto: Oswaldo Rivas/AFP)

België: Amerika se Simone Biles ding mee op die balansbalk in die vrouespanfinaal tydens die 52ste FIG Artistieke Gimnastiek-wêreldkampioenskapsreeks. (Foto: Lionel Bonaventure/AFP)

Italië: Brandbestryders op die toneel van ʼn busongeluk op 3 Oktober in Mestre, naby Venesië. Minstens 20 mense is Dinsdag dood toe ʼn bus van ʼn brug in Venesië afgery het. Brandbestryders sê die bus het aan die brand geslaan nadat dit van die brug, wat die Mestre- en Marghera-distrik verbind, afgery het. (Foto: Marco Sabadin/AFP)

Verenigde Koninkryk: ʼn 12-punt-takbok staan en brul tydens paarseisoen in Richmond Park, wes van Londen. Paarseisoen, ook bekend as bronstyd, vind in die herfs plaas. Takbokramme ondergaan ʼn aantal fisiologiese veranderinge in die aanloop tot bronstyd, waaronder ʼn toename in testosteroon. Hul nekke verdik ook, die larinks word meer prominent en die tong verander van vorm. ʼn Gebrul word as die eerste verdedigingstaktiek gebruik as ʼn manier om mededingers af te skrik. ʼn Harder brul dui op ʼn groter dier. Richmond Park en Bushy Park is die tuiste van meer as 1 000 vrylopende edel- en damherte. (Foto: Adrian Dennis/AFP)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.