Die week in foto’s

Griekeland: ʼn Brandbestryder met twee hase en ʼn kat wat hy vroeër uit ʼn brand tussen die dorpies Kiotari en Gennadi op die Griekse eiland Rhodos gered het. Met die toerismeseisoen in volle swang woed talle veldbrande in Griekeland en duisende vreesbevange besoekers skarrel om die land te verlaat. (Foto: Spyros Bakalis/AFP)

Frankryk: Jonas Vingegaard, ʼn Deense fietsryer vir die Jumb-Visma-span, vier in sy geel trui sy oorwinning in die Tour de France-fietswedren nadat hy die 21ste en laaste skof van die wedren voltooi het. Die laaste skof is tussen Saint-Quentin-en-Yvelines en die Champs-Élysées in Parys en strek oor 115 km. (Foto: Marco Bertorello/AFP)

Oekraïne: ʼn Man stap verby die puin van verwoeste geboue in Izyum in die Kharkiv-streek terwyl die Russiese aanslag op Oekraïne voortduur. (Foto: Sergey Bobok/AFP)

Japan: Nederland se Ginni van Katwijk tydens die Wêreld-watersportkampioenskap se 20 m-hoogduik vir vroue in Fukuoka, Japan. (Foto: Yuichi Yamazaki/AFP)

Tunisië: Brandbestryders probeer die vlamme van ʼn bosbrand naby Melloula in die noordweste van Tunisië blus. Veldbrande woed weens ʼn versengende hittegolf in ʼn denneboomplantasie naby die grens van Tunisië en Algerië. Meer as 30 mense is dood en massa-ontruimings vind noodgedwonge plaas. (Foto: Fethi Belaid/AFP)

Israel: Betogers in Tel Aviv raak slaags met lede van die Israelse polisie tydens ʼn optog teen die regering se omstrede regterlike hervormingsplan. Israelse wetgewers het vandeesweek ʼn sleutelklousule van die hervormingsplan goedgekeur wat daarop gemik is om die magte van die hooggeregshof – om regeringsbesluite te skrap – in te perk. (Foto: Jack Guez/AFP)

Afghanistan: ʼn Afghaanse man verwyder die gordyne in ʼn skoonheidsalon in Kaboel nadat die land se Taliban-owerheid vroeër beveel het dat skoonheidsalonne landwyd hul deure binne ʼn maand moet sluit. Die stap word bestempel as nog ʼn poging om vroue heeltemal uit die openbare lewe in Afghanistan te verwyder. (Foto: Wakil Kohsar/AFP)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Marcello ·

Baie dankie, Maroela Media, die foto’s gee ons as lesers ‘n blik op gebeure in ander lande.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.