Dié ysbere dalk bestand teen aardverhitting

‘n Ysbeer op ‘n sneeu-bedekte ysberg in ‘n see van ys wat aan die land grens. (Foto: Kristin Laidre / AFP)

Midde groeiende kommer oor die toekoms van ysbere weens aardverhitting, het wetenskaplikes nou afgekom op ʼn trop ysbere wat gebruik maak van varswater ys afkomstig van gletsers – eerder as gevriesde seewater – om te jag.

Wetenskaplikes aan die Universiteit van Washington in die VSA sê dié diere kan tot agt maande van die jaar in dele van die Noordpool oorleef sonder enige see-ys omdat hulle toegang het tot ys wat van varswater afkomstig is. “Dit beteken dat van die spesie sal kan oorleef, ten spyte van stygende temperature,” het Kristin Laidre, wetenskaplike en leier van die navorsingstudie, gesê. Daar word lank reeds vir die voortbestaan van hierdie diere gevrees, aangesien groot dele van die Arktiese Oseaan in gedrang is weens aardverhitting.

Volgens Laidre is hierdie ysbere heeltemal van ander diere van hul soort afgesonder en leef hulle vir honderde jare reeds eenkant van die res van die ysbeerbevolking.

Die afgeleë gebied in die suidooste van Groenland, waar die bere tot nou toe oorleef het, kan net per helikopter bereik word en lede van die navorsingspan het die afgelope ses jaar data ingevorder deur met Inuit-jagters onderhoude te voer en die diere te bestudeer.

Die stukke ys wat hierdie ysbere gebruik om robbe mee te jag, is afkomstig van die Groenland‑ysplaat, wes van waar hierdie diere voorkom. Die studie het ook gevind dat volwasse vroulike ysbere kleiner as normaalweg is en dat hulle geneig is om minder welpies te hê.

Hoewel Laidre meen dit is steeds belangrik om in te gryp ten einde aardverhitting stop te sit, is sy versigtig optimisties dat dié trop ʼn oplossing kan bied vir die bedreiging wat aardverhitting vir ysbere inhou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Cherokee ·

Die studie het ook gevind dat volwasse vroulike ysbere kleiner as normaalweg is en dat hulle geneig is om minder welpies te hê. Hoewel Laidre meen dit is steeds belangrik om in te gryp ten einde aardverhitting stop te sit,….

Neeeeee…eee moenie dit stop sit nie! Stel eerder vas waaromdie koue hulle minder welpies laat hê, en maak die verkoop van verwarmers in Suid Afrika teen die wet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.