Djokovic in laaste ronde van visum-stryd

Novak Djokovic. Foto: Kena Betancur/AFP.

Die nou al omstrede tennisspeler Novak Djokovic is wéér Saterdagoggend deur grenswagte aangekeer en word tans in ʼn ongespesifiseerde plek gehou totdat die hof besluit oor sy appèl teen Australië se besluit om sy visum te kanselleer.

Volgens CNN sal Australië se federale hof Sondag uitgebreide argumente vir en teen sy deportasie aanhoor. Alex Hawke, die land se minister van immigrasie, het Vrydag sy visum vir ʼn tweede keer gekanselleer. Sou sy appèl nie slaag nie, sal hy uit die land gesit word en kan hy moontlik drie jaar lank verbied word om vir ʼn nuwe Australiese visum aansoek te doen.

Nicholas Wood, Djokovic se regsverteenwoordiger, het Saterdag in ʼn voorverhoor aangevoer Hawke het sy persoonlike mag gebruik om die 34-jarige se visum te kanselleer, op grond daarvan dat hy teenstand teen die Covid-19-inenting sou bevorder indien hy aanbly sonder om ingeënt te word. “Dit verskil hemelsbreed van hul aanvanklike standpunt dat hy ʼn gevaar vir ander inhou.”

Djokovic het mediese kwytskelding van die Covid-19-inenting ontvang, maar later erken daar het ʼn fout met sy reisdokumente ingesluip. Djokovic het sedert sy erkenning hiervan Woensdag nog niks weer op sosiale media geplaas nie.

Die plek waar hy tans gehou word, is volgens CNN nie bekend gemaak nie ten einde ʼn “mediasirkus” te vermy.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.