Djokovic onttrek nog nie aan ATP-beker, Australiese Ope

Novak Djokovic. (Foto: Adrian Dennis/AFP)

Tennis Australië het Dinsdag bevestig dat die wêreld se voorste tennisspeler, Novak Djokovic, nog nie aan die ATP-beker onttrek het nie, ten spyte van bewerings dat hy dit waarskynlik sou doen.

Ernstige twyfel heers of Djokovic na Australië sal reis vir dié toernooi, asook vir die Australiese Ope wat kort daarna plaasvind, nadat hy geweier het om te bevestig of hy teen Covid-19 ingeënt is.

ʼn Lid van sy span het vroeër aan ʼn Serwiese koerant gesê dat hulle 99% seker is dat die wêreld se nommer een nie aan die ATP-beker gaan deelneem nie.

Tennis Australië sê egter nou dat die Serwiër nog nie aan die byeenkoms onttrek het nie. Dit begin Saterdag met Djokovic wat op die eerste dag teen die Noorweër Casper Ruud sal speel.

“Ons het nog nie gehoor van enige onttrekkings aan die Serwië-span vir die ATP-beker nie,” het ʼn woordvoerder gesê.

Die beheerliggaam vir tennis in Australië reël jaarliks huurvlugte om internasionale spelers na Melbourne en Sydney te bring. Die verdedigende kampioen van die Australiese Ope vir vroue, Naomi Osaka, was onder diegene wat Dinsdag in die land aangekom het.

Djokovic was nêrens te siene nie, maar spelers kan ook kies om privaat te vlieg.

Die negemalige Australiese Ope-kampioen kan sy 21ste Grand Slam-titel wen as hy op Melbourne Park speel, maar om Australië binne te gaan moet hy en lede van sy gevolg ingeënt wees.

Die 34-jarige tennisster het vroeër sy teenkanting teen die entstof uitgespreek en sy pa het ook verlede maand gesê Djokovic sal waarskynlik nie in die Australiese Ope speel nie.

Verskeie spelers wat aan die ATP-beker sou deelneem, het reeds positief vir Covid-19 getoets, onder andere die Russiese wêreldnommervyf Andrey Rublev en die Kanadees Denis Shapovalov.

Die Spaanse tennisster Rafael Nadal wat volgende week in ʼn opwarmingsbyeenkoms in Melbourne sou speel, het ook die virus opgedoen. Hulle het almal die afgelope maand in Abu Dhabi aan ʼn vertoontoernooi deelgeneem.

Drie vroulike spelers by dieselfde byeenkoms het ook positief getoets – die Olimpiese gouemedaljewenner Belinda Bencic, die Amerikaanse Ope-kampioen Emma Raducanu, asook Ons Jabeur.

Die Australiese Ope begin op 17 Januarie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.