Dodetal ná tifoon in Filippyne styg steeds

Die dodetal het reeds tot minstens 20 gestyg en duisende mense is dakloos. (Foto: AP)

Die dodetal in die Filippyne het nou reeds tot 20 gestyg en derduisende mense het uit hul huise gevlug en ʼn demper op Kersfeesvieringe in dié oorwegend Katolieke land geplaas.

Tifoon Phanfone het duisende mense by hawens en lughawens gestrand gelaat – reg in die middel van die vakansieseisoen. Dit het ook grondstortings veroorsaak, het gelei tot die oorstroming van laagliggende dorpies, het huise verwoes, bome en kragpale ontwortel en hele provinsies in die donker gedompel.

ʼn Nooddienswerker het die kusdorp Batad in die Iloilo-provinsie as ʼn spookdorp op Kersdag beskryf. Die tifoon het die dorpie swaar getref.

“Jy kan niemand sien nie, want dit is pikdonker en jy hoor ook nie ʼn geluid nie. Dit lyk soos ʼn spookdorp,” het Cindy Ferrer, verbonde aan die burgerlike verdedigingsdepartement, gesê.

Die storm het gister effens verswak en die Suid-Chinese See met wind van tot 120 km/h en rukwinde van tot 150 km/h getref. Dit het eiland na eiland Kersdag met dié sterk wind en bitter swaar reën getref, het die weerdiens gesê.

Die meeste van die sterftes wat aangemeld is, was weens verdrinking, bome wat omgeval het en elektriese skokke.

(Foto: AP)

Meer as 25 000 mense is by hawens gestrand nadat die kuswag veerbote en vragskepe verbied het om te vaar.

Tientalle internasionale en plaaslike vlugte is ook opgeskort. Dit sluit in vlugte na verskeie gewilde strande en branderry-oorde.

Sowat 20 tifone en storms tref die Filippyne elk jaar. Die Suidoos-Asiatiese land is boonop geleë in die gebied om die Stille Oseaan wat die Pasifiese Ring van Vuur genoem word, waar aardbewings en vulkane dikwels voorkom. Dit maak dié land met sy meer as 100 miljoen inwoners geweldig vatbaar vir rampe.

Phanfone, wat dier beteken, is die 21ste tifoon wat die land vanjaar tref.

Een van die sterkste tifone wat ooit aangemeld is, tifoon Haiyan, het die land in November 2013 getref. Meer as 6 300 persone is dood en meer as 4 miljoen is haweloos gelaat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.