Dodetal styg ná Haiti-ontploffing

Die uitgebrande tenkwa die stad Cap-Haitien in Haiti. (Foto: Richard Pierrin / AFP)

Die dodetal ná die ontploffing van ʼn tenkwa wat brandstof in die noorde van Haiti vervoer het, het tot meer as 60 gestyg. Omstanders het na die wa gehardloop om houers met brandstof te vul en tientalle rondom die wa het doodgebrand.

“Die dodetal staan nou op 62,” sê Patrick Almonor, adjunkburgemeester van die stad Cap-Haitien waar die tragedie hom Maandagaand afgespeel het.

Almonor bestempel die toneel van die ontploffing as grusaam nadat hy gesien het hoe tientalle slagoffers “lewend verbrand” het. Hy sê dit is onmoontlik om dié slagoffers te identifiseer.

Die owerhede soek intussen na slagoffers in nabygeleë geboue nadat sowat 40 huise in die gebied weens die ontploffing aan die brand geslaan het.

Maroela Media het vroeër berig die tenkwa het omgeslaan nadat die vragmotorbestuurder beheer daaroor verloor het. Hy wou glo ʼn botsing met ʼn motorfiets vermy het.

Brandstof is oor die pad uitgestort en talle omstanders het van die kans gebruik gemaak om hul houers daarmee vol te maak, aangesien Haiti tans ʼn ernstige brandstoftekort het.

Die nabygeleë Justinien-universiteitshospitaal is ná die voorval oorval met pasiënte in ’n ernstige toestand.

’n Dokter by dié hospitaal het aan die plaaslike radiostasie Magik9 gesê twee mense het reeds by die hospitaal aan hul beserings beswyk. Altesaam 40 ander is ernstig beseer.

“Die mense het brandwonde aan meer as 60% van hul liggame gehad,” het hy gesê.

Haiti se premier, Ariel Henry, het die toneel en beseerdes in die hospitaal besoek.

“Dit is met ʼn gebroke hart wat ek die kritieke toestand van sommige van ons landgenote gesien het,” het Henry ná ’n besoek aan die hospitaal gesê.

Dit volg kort nadat hy ʼn nasionale routydperk vir die slagoffers aangekondig het.

Die premier het ook die versekering gegee dat veldhospitale vinnig opgerig sal word om nog slagoffers van die ontploffing te help versorg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Danie ·

Elinette. Daar is n erge brastof te kort wat gepaard gaan met erge armoede in daardie land. Die mense is desperaat en en desperate mense doen desperate goed. Jy en jou gesin sou heel waarskynlik dieselde op getree het as jy in daardie situasie was. Moenie altyd so vinnig oordeel nie.

anniekiewiet ·

Hier gryp mense ook van ongelukstonele als wat hul kan, en dis nie net die armstes nie, inteendeel.
Daardie tonele in Haïti is hartverskeurend.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.