Dodetal styg ná hotelbeleg in Somalië

(Foto: Hassan Ali ELMI/AFP)

Die dodetal het tot 21 gestyg ná die beleg van ʼn hotel in Mogadisjoe, Somalië.

Die aanval deur ʼn Al-Kaïda-verwante groep op die gewilde Hayat-hotel het dele van die gebou laat ineenstort. Daar word gevrees dat mense steeds in die puin vasgekeer is.

Vegters van Al-Sjabaab het Vrydagaand die hotel bestorm. Honderde mense was in die hotel toe ʼn selfmoordbomaanvaller ʼn reuseontploffing veroorsaak het. ʼn Tweede ontploffing het minute later gevolg.

Ali Haji Adan, minister van gesondheid, het Sondag gesê minstens 117 mense is gewond tydens die beleg wat sowat 30 uur geduur het. Verskeie aanvallers is glo deur die veiligheidsmagte doodgeskiet.

Noodwerkers en bomverwyderingskundiges het Sondag die erg beskadigde hotel begin fynkam op soek na enige plofstof en om rommel te verwyder terwyl veiligheidsmagte die gebied gepatrolleer het.

Abdi Hassan Mohamed Hijar, polisiekommissaris, het aan verslaggewers gesê dat 106 mense insluitend vroue en kinders gered is tydens die beleg.

Die aanval wat Vrydagaand begin het, is die ergste in Mogadisjoe sedert Somalië se nuwe president Hassan Sheikh Mohamud in Mei ingehuldig is.

Tientalle mense het Sondagoggend by die hotelperseel aangekom, desperaat vir nuus oor hul familielede.

Die VSA, Brittanje, die Europese Unie, Turkye en VN het die aanval ten sterkste veroordeel.

Die dodelikste aanval in dié stad het in Oktober 2017 plaasgevind toe ʼn vragmotor vol plofstof in Mogadisjoe ontplof het en minstens 512 mense dood is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.