Doodstraf vir man wat ‘Squid Game’ invoer

Squid Game. (Foto: Noh Juhan/Netflix)

Noord-Korea het vandeesweek weer opslae gemaak oor sy genadelose benadering teenoor diegene wat die land se wette oortree.

Die land se owerhede, wat met ʼn ystervuis deur Kim Jong-oen regeer word, het ʼn man ter dood veroordeel nadat hy Netflix se gewildste rillerreeks Squid Game ingevoer en versprei het. Die man sal glo deur ʼn vuurpeloton tereggestel word.

Hierdie Suid-Koreaanse reeks vertel die verhaal van 456 skuldbelaaide mense wat in ʼn wrede oorlewingspeletjies meeding vir 45,6 miljard won (R60,6 miljard) se prysgeld. Die reeks beeld ook ʼn karakter uit wat uit Noord-Korea ontsnap het en beklemtoon dié gewaagde poging en die prys wat daarvoor betaal is.

Volgens Radio Free Asia (RFA), wat glo met ʼn bron in die land kontak gemaak het, is ʼn aantal hoërskoolleerders wat dié reeks gekyk het, asook hul ouers en onderwysers, swaar gestraf. Die leerder wat ʼn geheuestokkie met die fliek daarop gekoop en toe verder versprei het, is lewenslange tronkstraf opgelê, terwyl nog ses hoërskoolleerders wat dit gekyk het vyf jaar se dwangarbeid moet verrig.

Die kinders se ouers en voogde is glo ook tronkstraf opgelê en hul skoolhoof en onderwysers is hul werk kwyt. Die onderwysers kan boonop uit die land verban word en sal dan in afgeleë myne moet werk, berig RFA.

Gerugte doen nou die rondte dat ʼn ander leerder egter lig daarvan afgekom het nadat sy ouers glo omkoopgeld van $3 000 (meer as R47 000) aan owerhede betaal het.

“Hierdie hele storie het begin toe ʼn hoërskoolleerder die geheuestokkie gekry en die reeks saam met een van sy vriende in die klas gekyk het,” het ʼn lid van die wettoepassingsowerheid in die Noord-Hamgyong-provinsie aan RFA gesê.

“Die vriend het verskeie ander leerders van die reeks vertel en dit met hulle gedeel. Die kinders is eindelik deur een van die regering se sensors uitgevang.”

Dit is glo die eerste keer wat die land minderjariges straf vir die oortreding van ʼn wet oor die verspreiding of kyk van media uit kapitalistiese lande soos Suid-Korea of Amerika.

“Die regering neem hierdie voorval baie ernstig op omdat hulle sê die leerders se onderrig is afgeskeep.”

Die staatbeheerde propagandawebtuiste het na bewering verlede maand gesê dat Squid Game net wys hoe korrupte en immorele boosdoeners in Suid-Korea lewe.

Ten spyte van die risiko wat dit vir menselewens inhou, word kopieë van die reeks gereeld Noord-Korea ingesmokkel.

RFA het voorheen opgemerk dat inwoners van Noord-Korea met die karakters se finansiële stryd kan vereenselwig.

“Noord-Korea is soos Squid Game in die regte lewe, maar in plaas daarvan om vir jou lewe of geld mee te ding, doen jy dit vir jou vryheid,” het een sosialemediagebruiker geskryf.

“Ek weet nie eers wat om te sê nie. Dis belaglik,” skryf ʼn ander een.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Boer ·

Kyk as jy daai land se wet breek moet jy maar gestraf word. Ek weet van lande wat doodstraf gee vir die wat met Dwelms smokkel. Hier in SA kry jy 10 Jaar as jy moord pleeg waarvan jy 3 jaar sit dan kry jy parool. Waneer jy uit is dan moor weer. Sorry vir daai man hy het sy land se wet oortree.

Kobie ·

As jy Noord-Korea se regering se aksies verdedig, weet jy beslis nie wat dit beteken om onder n kommunistiese diktatorskap te leef nie..

piet ·

Jy kan nie 10 jaar vir moord in SA kry nie, dis onmoontlik. Die minimum vonnis vir moord is 15 jaar en jy moet ook minstens die helfte van so ‘n langerige vonnis sit voor jy in aanmerking kom vir parool. Geen sprake dat jy na 3 jaar kan uitkom vir moord nie.

Janine ·

Ongelooflik! Die swakste reeks OOIT. Wat ‘n mors van data! Hier loop verkragters, moordenaars ens vry rond. Wat ‘n absolute skande!!!!!!

Anonymouse ·

Ek het die reeks baie geniet. Dit was iets baie anders gewees. Ja dit was baie donker, maar so is baie ander flieks, boeke, toneelstukke. En selfs musiek.

Charmain ·

Ja nee stem saam, swak toneelspel, treurige oorklank werk….vermorsing van tyd

Hardekwas ·

Dit is nie respek nie, dit is absolute vrees vir die malle wat die land regeer asof dit sy eie is.

Dorry ·

Die wat so graag wil hê ons land moet soos Noord Korea regeer word, ek sal twee keer dink as ek julle is. Gaan lees maar eers bietjie meer op oor hoe hulle mense behandel word, dan praat ons weer.

madels ·

Genade, is daar enigiemand wat so mal is om wens SA is soos NK? Dis n gevaarlike begeerte :-(

anniekiewiet ·

Die berig vertel van daardie despotiese kommunistiese land se genadelose benadering teenoor hulle burgers wat enige wette verbreek. Of die speletjies in jou smaak val of nie is nie hier ter sprake nie. Maar mag ons land daardie kommunisme gespaar word, want kort-kort lyk dit of ons regering na so iets op pad is.

Kobie ·

Besef jy dat die landsburgers van Noord-Korea gebuk gaan onder die mees onderdrukkende regering in die wêreld?
Daar is geen vryheid van spraak/uitdrukking, geen vryheid van geloof. Die media word deur die regering beheer. Burgers mag nie die land verlaat nie!
Is dit wat jy wil hê?!

Johan ·

Ek glo Noord-Korea het baie streng wetgewing ja. Maar kan mens regtig al die vreeslike stories glo wat mens hoor en lees tot in die fynste detail? Is dit nie ook maar net propaganda teen hulle nie. Net soos die vreeslike leuns wat die buiteland oor S.A. gehoor het tydens apartheid.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.