Drie vermeende Rusland-spioene in Engeland vas

Orlin Roussev (45), Katrin Ivanova (32), Bizer Dzhambazov (42) [Foto: Twitter]

Drie mense wat daarvan verdink word dat hulle vir Rusland spioeneer terwyl hulle in Brittanje woon, is in hegtenis geneem.

Die beskuldigdes, almal Bulgaarse burgers, is in Februarie aangekeer en is sedertdien in aanhouding. Daar word beweer dat hulle vir die Russiese veiligheidsdienste gewerk het.

The Guardian berig Orlin Roussev (45) van Great Yarmouth in Norfolk, Bizer Dzhambazov (42) van Harrow, noordwes van Londen, en Katrin Ivanova (32), ook van Harrow, is van identiteitsbedrog aangekla, nadat daar vervalste dokumente in hul besit gevind is.

Die dokumente sluit in paspoorte, identiteitskaarte en ander dokumente vir die Verenigde Koninkryk (VK), Bulgarye, Frankryk, Italië, Spanje, Kroasië, Slowenië, Griekeland en die Tsjeggiese Republiek.

Die trio was onder vyf mense wat in Februarie in hegtenis geneem is weens ʼn oortreding ingevolge die Wet op Amptelike Geheime.

Hulle is aangehou deur speurders van die teenterrorisme-eenheid van die metropolitaanse polisie, wat nasionale polisiëringsverantwoordelikheid vir spioenasie het.

Drie van hulle is later in Februarie van ʼn oortreding ingevolge die Wet op Identiteitsdokumente aangekla.

BBC berig die trio woon al jare lank in die Verenigde Koninkryk, beklee ʼn verskeidenheid van beroepe en bewoon verskillende voorstedelike eiendomme.

Roussev het ʼn geskiedenis van sake-onderhandelinge in Rusland. Hy het in 2009 na die Verenigde Koninkryk verhuis en drie jaar lank in tegniese hoedanigheid in finansiële dienste gewerk.

Sy aanlyn LinkedIn-profiel verklaar dat hy later ʼn onderneming besit het wat betrokke was by seinintelligensie, wat die onderskepping van kommunikasie of elektroniese seine behels.

Roussev, wie se mees onlangse adres ʼn gastehuis aan die kus in Great Yarmouth is, sê ook dat hy eens as raadgewer van die Bulgaarse ministerie van energie opgetree het.

Voormalige bure in Harrow het Dzhambazov en Ivanova as ʼn egpaar beskryf.

Volgens die bure was Dzhambazov ʼn bestuurder vir hospitale en Ivanova beskryf haarself op haar aanlyn LinkedIn-profiel as ʼn laboratoriumassistent vir ʼn private gesondheidsonderneming.

Die twee, wat sowat ʼn dekade gelede na die Verenigde Koninkryk verhuis het, het ʼn gemeenskapsorganisasie bestuur wat dienste aan Bulgaarse mense verskaf, onder meer om hulle vertroud te maak met die “kultuur en norme van die Britse samelewing”.

Volgens aanlyn Bulgaarse staatsdokumente het hulle ook vir verkiesingskommissies in Londen gewerk wat die stemming in Bulgaarse verkiesings deur burgers wat in die buiteland woon, vergemaklik.

Die drie beskuldigdes sal in Januarie by die Old Bailey in Londen op aanklagte van spioenasie teregstaan.

Staatsdreigemente en spioenasie

Die polisie se teenterrorisme-eenheid het in die openbaar gepraat oor die toenemende hoeveelheid tyd wat bestee word aan vermeende staatsdreigemente en spioenasie, veral met betrekking tot Rusland.

Hul kommer volg op omstrede voorvalle met Russiese intelligensie-operasies in die VK.

In 2018 het Russiese agente probeer om die voormalige dubbelagent, Sergei Skripal, en sy dogter, Yulia, in Salisbury, Wiltshire, met behulp van die dodelike senuweemiddel Novichok te vermoor. Die twee, asook die opvolgspeurder, Nick Bailey, is in die hospitaal behandel en kon gesterf het.

Later daardie jaar is ʼn plaaslike vrou, Dawn Sturgess – wat nie met die Skripals verbind was nie – dood nadat sy blootgestel is aan die senuweemiddel, wat in Wiltshire in ʼn parfuumbottel gelaat is.

In 2006 is die voormalige Russiese intelligensie-offisier Alexander Litvinenko in Londen vermoor nadat hy vergiftig is deur sluipmoordenaars wat vir die Russiese staat gewerk het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Wondermaarnet ·

As hulle vir Rusland spioneer, volg maar op en kyk of ons kaders nie dalk ook betrokke is nie.

Marthinus W ·

Aleksander Litwinenko en die Skripals is net so min deur die Russe vergiftig, as wat ek Mickey Muis is.

Litwinenko is deur Poetin aangestel om die oligarge se geldwassery te ondersoek. Dit het hom gelei na Israel en toe Londen. Iets wat baie min weet, is dat sy pa, Walter, n mediese dokter is, en Aleksander het in sy pa se arms gesterf, terwyl die Britse regering n mediasirkus bedryf het [wat bevestig dat Aleksander se “vergiftiging” n set was].

Skripal is in Rusland in hegtenis geneem, het sy tronkstraf uitgedien, en is daarna toegelaat om Engeland toe te gaan, Waarom sou Rusland hom daar wou vergiftig? Ook, Skripal en sy dogter het op dieselfde oomblik flou geval, ten spyte daarvan dat hulle fisiologies verskil. En wie het hulle ontdek? n Vroue generaal, hoof van Engeland se weermag se medics.

Anna-marie ·

Dis reg, die Skripals is NIE deur Rusland vergiftig nie. Weereens Westerse leuns.

Niklaas ·

Ek is maar bly ek het nie betrokkenheid by hierdie skemer wereld se bestaan nie. Jou lewe is nie vreeslik baie werd dan nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.