Driejarige skiet sussie (6) per ongeluk dood

Bella Callaway is deur haar driejarige boetie per ongeluk doodgeskiet (Foto: Stephanie Callaway, Facebook)

ʼn Sesjarige meisie van Alabama in die VSA is dood nadat haar driejarige boetie haar per ongeluk met ʼn vuurwapen raakgeskiet het. Volgens die plaaslike polisie het die twee saam met ʼn lid van die polisie in dieselfde huis gewoon.

Die televisiekanaal CBS42 berig owerhede en nooddienswerkers in Shelby County, Alabama, het Maandag omstreeks 10:00 ʼn oproep ontvang van ʼn kind wat in ʼn huis in die Maylene-gemeenskap geskiet is.

Nooddienswerkers het op die gewonde meisie in die huis afgekom en per ambulans na die Shelby Baptist- mediese sentrum geneem. Sy het met haar aankoms by die hospitaal aan haar skietwond beswyk.

Die meisie is deur CBS42 geïdentifiseer as Bella Callaway.

Volgens plaaslike owerhede het Bella se driejarige boetie ’n vuurwapen in die huis in die hande gekry en dit per ongeluk afgevuur, berig WVTM13, ʼn plaaslike televisiekanaal in Alabama. Bella is in die proses raakgeskiet.

Volgens die televisiekanaal het die stad Helena se polisiehoof, maj. Clay Hammac, bevestig dat een van hul polisiebeamptes in dié huis woon.

“Daar is egter geen bewyse wat daarop dui dat dit die polisieman se wapen is wat by hierdie tragedie betrokke was nie,” het Hammac gesê. “Dit was ’n persoonlike vuurwapen wat sonder toesig in die huis rondgelê het.”

Hammac sê daar is ook geen bewyse van kriminele nalatigheid gevind wat moontlik tot die skietery kon lei nie.

John Samaniego, die balju van Shelby County, beskryf die ongeluk as ʼn tragedie. “Ons treur saam met die gesin van hierdie kind,” het hy aan WVTM13 gesê.

Volgens die televisiekanaal vind ʼn roudiens vir Bella Donderdagmiddag by die Currie Jefferson Memorial in Hoover plaas. Haar familie het gevra dat almal wat die begrafnis gaan bywoon, rooi aantrek omdat dit Bella se gunstelingkleur was.

Currie Jefferson Memorial het Bella se doodsberig op Facebook gedeel. Daarin sê die familie dat sy lief was om park en kerk toe te gaan en dat sy graag in die kerkkoor gesing het. “Haar gunstelingdier was ʼn kat en haar gunstelingkos spaghetti en kaas,” skryf die familie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Jean ·

Hulle wette moet soos S.A. sin wees, geweer op jou of in ‘n kluis.

Cherokee ·

Geweer kan nooit ‘op’j ou wees nie. ‘n Handwapen kan wel aan jou wees.

TO ·

Oh my, wat ‘n verskriklike tragedie. My hart gaan uit na almal, maar wonder net hoe ‘n gelaaide wapen rondlê in ‘n huis waar kinders is. Die mooiste, mooiste dogtertjie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.