Ed Sheeran wen kopieregsaak oor bekende liedjie

Ed Sheeran (Foto: TIMOTHY A. CLARY/AFP)

Die Britse popster Ed Sheeran is verheug nadat ʼn Amerikaanse jurie bevind het dat hy nie Marvin Gaye se “Let’s Get It On” gekopieer het toe hy sy treffer “Thinking Out Loud” gekomponeer het nie.

Sheeran het die uitspraak as ʼn oorwinning vir kreatiewe vryheid bestempel.

Die siviele regsgeding is aanhangig gemaak deur erfgename van Gaye se medeskrywer Ed Townsend, wat beweer het dat harmoniese progressies en ritmiese elemente van Sheeran se liedjie sonder toestemming gekopieer is van die liedjie wat deur Gaye beroemd gemaak is. Die erfgename het ʼn deel van die wins uit Sheeran se treffer gesoek.

“As die jurie hierdie saak andersom besluit het, kan ons netsowel totsiens sê vir die kreatiewe vryheid van liedjieskrywers,” het Sheeran aan verslaggewers gesê.

“Dit is verwoestend en ook beledigend om daarvan beskuldig te word dat ons ander mense se liedjies gesteel het wanneer ons soveel in ons lewensbestaan insit,” het hy bygevoeg. “Ek is net ʼn ou met ʼn kitaar wat daarvan hou om musiek te skryf vir mense om te geniet.”

Die beoordelaars het sowat drie uur daaraan bestee om te beraadslaag of Sheeran se liedjie en Gaye se treffer wesenlik soortgelyk is en of hul gemeenskaplike elemente deur kopieregwetgewing beskerm word.

Sheeran het dae lank met kitaar in die hand getuig en demonstrasies vir die hof gespeel om te bewys dat die betrokke akkoordprogressie ʼn basiese bousteen van popmusiek is wat nie besit kan word nie.

Die 32-jarige het gesê hy skryf die meeste van sy liedjies in ʼn dag, en hy het saam met die sanger-liedjieskrywer Amy Wadge “Thinking Out Loud” geskryf.

Dit was die tweede verhoor in ʼn jaar vir Sheeran, wat verlede April suksesvol by ʼn Londense hof getuig het in ʼn saak oor sy liedjie “Shape Of You”, en gesê het die regsgeding is tekenend van kopiereglitigasie wat te ver gaan. Die regter het ook in dié saak in sy guns beslis.

Sheeran se “Thinking Out Loud” was ʼn groot treffer en het vir hom ʼn Grammy besorg vir liedjie van die jaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

TruthDealer ·

Sulke geldgierige mense maak my siek. Enigiemand wat nie stokdoof is nie, kan van n miljoen myl ver hoor daai 2 liedjies is baie verskillend. Jy hoef nou nie n musiekprofessor te wees om dit te besef nie.

SjN ·

Geldgierige erfgename moet ook al die regskostes betaal, laat dit vir hul n dure les wees.

groenboer ·

As jy my vra behoort kopiereg te eindig, en ‘n boek of musiekstuk in die openbare domein te beland, die oomblik wat die oorspronklike skepper sy laaste asem uitblaas…

Treurwilger ·

Die twee uittreksels wat ek gehoor het, was so te sê identies.
Met soveel liedjies deur die dekades is dit egter onvermydelik dat ‘n paar note hier en daar sal ooreenstem.
Verlig vir Sheeran se onthalwe dat die onverdiende vernedering hom gespaar is.

Gaitsigubib ·

Interesant dat daar 2 wyd uiteenlopende opinies (Truth D. & Teur W) is m.b.t hierdie liedjies. Albei word gelike maar albei kan nie reg wees nie. Sal maar self moet gaan luister.

Treurwilger ·

Soos ek sê, het slegs kort uittreksels uit beide liedjies gehoor, wat regtig báie ooreenstem.
Maar ek is aan Sheeran se kant! :-)

Grassie ·

Ons land se volkslied en ‘n Engelse liedjie se wysies is ook dieselfde. Ek ken nie die naam van die Engelse liedjie nie maar onthou die wysie. Dit het iets te doen met ‘n “spider on a wall”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.