Eerste privaat sending kom by Ruimtestasie aan

Die Axiom-span saam met die bemanningslede van die IRS (Foto: Axiom_Space/Twitter)

Die eerste ten volle privaat sending het Saterdag vroeg by die Internasionale Ruimtestasie aangekom met ʼn bemanning van vier van die beginbesigheid Axiom Space.

Nasa het die drieledige vennootskap met Axiom en SpaceX geloof as ʼn sleuteltree tot kommersialisering van dié deel van die ruimte wat as die lae aarde-wentelbaan bekendstaan, verwelkom. Dit bied die agentskap die geleentheid om te fokus op meer ambisieuse reise dieper in die kosmos.

ʼn SpaceX Falcon 9-vuurpyl met die Crew Dragon-kapsule Endeavor het Saterdag om 1229 GMT by die IRS aangekom en die bemanning het byna twee uur later die stasie betree ná hulle Vrydag van die Kennedy-ruimtesentrum in Florida lanseer het.

Die voormalige Nasa-ruimtevaarder Michael Lopez-Alegria, wat burgerskap in die VSA en Spanje het, was in bevel van die Axiom Mission 1 (Ax-1). Hy het vier keer in sy 20 jaar lange loopbaan na die ruimte gevlieg en het in 2007 laas die IRS besoek.

Drie bemanningslede, wat vir hul sitplek betaal het, het by hom aangesluit: Die Amerikaanse eiendomsmagnaat Larry Connor, Kanadese belegger en filantroop Mark Pathy, en die Israelse voormalige vegvlieënier, belegger en filantroop Eytan Stibbe.

“Ons is hier om dit te ervaar, maar ons verstaan daar is ʼn verantwoordelikheid,” het Connor in kommentaar gesê wat op Nasa se regstreekse terugvoer te sien was.

As die eerste siviele bemanning, het hy gesê hulle “moet dit regkry”.

Die prys vir die kaartjies, wat agt dae op die IRS insluit voor hulle uiteindelik na die Atlantiese Oseaan terugkeer, beloop na berig word ongeveer $55 miljoen (sowat R798 miljoen).

Alhoewel welgestelde privaat burgers al vantevore die IRS besoek het, is die Ax-1 die eerste sending met slegs privaat bemanning in ʼn privaat ruimtetuig wat na die IRS reis.

Die Houston-gebaseerde Axiom betaal SpaceX vir die vervoerkoste en Axiom betaal Nasa vir die gebruik van die IRS.

Die vier mans sal aan boord die IRS, wat sowat 400 km bo seëvlak wentel, 25 navorsingsprojekte uitvoer, insluitend ʼn MIT-tegnologiedemonstrasie van slim teëls wat ʼn robotiese swerm vorm en in ruimte-argitektuur gebruik kan word.

Nóg ʼn eksperiment hou verband met die gebruik van kankerstamselle om mini gewasse te groei en dan die versnelde verouderingsomgewing van mikro-swaartekrag te gebruik om biomerkers te identifiseer vir die opsporing van kankers.

“Ons ouens gaan nie net soontoe om agt dae lank rond te dryf en foto’s te neem nie,” het Derek Hassmann, bedryfsdirekteur van Axiom Space, aan verslaggewers gesê.

Bemanningslid Stibbe sal boonop ook hulde bring aan sy vriend, Ilan Ramon, Israel se eerste ruimtevaarder wat in 2003 in ʼn ongeluk met die Ruimtependeltuig-Columbia oorlede is. Columbia het gedisintegreer gedurende die binnekoms in die aarde se atmosfeer. Stibbe het bladsye uit Ramon se ruimtedagboek, en aandenkings van sy kinders, na die IRS gebring.

Die Axiom-bemanningsgroep sal saam met die stasie se gewone bemanning woon en werk: tans drie Amerikaners, ʼn Duitser en drie Russe.

Die maatskappy het ʼn ooreenkoms vir vier sendings met SpaceX en Nasa het reeds in beginsel die tweede, Ax-2, goedgekeur.

Axiom beskou die reise as die eerste treë na ʼn groter doelwit: om sy eie privaat ruimtestasie te bou. Die eerste module sal na verwagting in 2024 lanseer word. Die stasie sal aanvanklik aan die IRS vasgemaak word voor dit uiteindelik outonoom sal vlieg wanneer die IRS buite werking gestel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.