Ernstige hepatitis versprei verder

(Argieffoto: Bret Kavanaugh/Unsplash)

Drie kinders is vandeesweek in Indonesië dood aan ʼn soort lewersiekte waarvan die oorsprong onbekend is.

Hierdie ernstige variant van akute hepatitis is die afgelope paar weke by sowat 170 kinders in 11 lande geïdentifiseer. Dit het kommer by die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) laat ontstaan oor die “onbekende oorsprong” van die siekte.

Die simptome wat by die kinders voorkom, is onder meer naarheid, braking, diarree en buikpyn voordat hul lewers eindelik tekens van inflammasie begin toon.

Indonesië se ministerie van gesondheid het gesê die drie kinders het verlede maand in hospitale in die hoofstad Jakarta gesterf. Hulle het ook van hierdie simptome getoon.

Siti Nadia Tarmizi, woordvoerder van die ministerie, sê buiten die bogenoemde simptome het die kinders ook koors, geelsug, stuiptrekkings en bewussynverlies gehad.

Die kinders was onderskeidelik twee, agt en 11 jaar oud ten tyde van hul afsterwe.

“Op die oomblik vermoed ons dat die sterftes weens akute hepatitis veroorsaak is, maar ons moet nog bevestig of dit nie te wyte is aan die bekende hepatitisvirusse A, B, C, D en Rb nie,” het Tarmizi gesê.

Sy het bygevoeg dat die ministerie tans ʼn volledige reeks virustoetse doen om te bevestig wat die oorsaak van die kinders se dood is.

ʼn Beroep is ook op ouers gedoen om hul kinders dadelik hospitaal toe te neem indien hulle enige van die bekende simptome toon.

Die moontlikheid van ʼn nuwe siekte wat slegs by jong kinders voorkom – die meeste onder die ouderdom van tien jaar met geen onderliggende siektetoestande nie – het grootskaalse kommer by gemeenskappe wêreldwyd veroorsaak wat steeds teen die Covid-19-pandemie probeer baklei.

Die WGO het vroeër gesê dat daar in onder andere Brittanje, Ierland en Nederland ʼn “onverwagse, maar beduidende toename” in gevalle soos dié onder jong, voorheen gesonde kinders is.

In die VSA het die agentskap vir siektebeheer onlangs ʼn studie bekend gemaak oor nege kinders wat in Alabama positief getoets het vir ʼn algemene patogeen genaamd adenovirus 41.

Dit is bekend dat hierdie patogeen gastro-enteritis by kinders veroorsaak, maar “dit is nie gewoonlik bekend as ʼn oorsaak van hepatitis by andersins gesonde kinders nie,” het die agentskap gesê.

Adenovirusse word algemeen versprei deur noue persoonlike kontak met mense en aanraking met respiratoriese druppels op oppervlakke. Daar is meer as 50 soorte adenovirusse wat gewoonlik verkoue veroorsaak, maar ook baie ander siektes tot gevolg kan hê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Johan ·

Dalk is dit met jul gepeuter met natuurlike immuunstelsel soos om mense te isoleer van mekaar. Het gehoor hospitale hier word oorval met kindersiektes, vermoedelik omdat ouers (en kinders) nie immuun kon ontwikkel en suksesvol oordra, agv die isolasie, masker nonsens en ontsmettingsmiddels nie. Mediese “spesialiste” is mos baie slim.

Miskruier ·

45jaar gelede het my sus en ek ook geelsug gekry, ek wonder hoeveel kinders.van die laerskool in Pta Moot het dit ook gehad. Ons was 6 weke uit die skool gehaal.

Frank ·

Daar was al hoeveel pessiektes afgelope paar duisend jaar so dit klink net soos die Siener van Rensburg klomp se wolf-wolf skree

annie ·

Ons was/is besig om ons self te flous om te glo dat alkoholgel en meeste ander ontsmettingsmiddels virusse dood. Maskers maak net die draers stadig dood. Virusse is boos en slinks en klou aan alles. Mense se planne draai meestal daarom om geld te maak uit die siekte eerder as die voorkoming.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.