‘Everything Everywhere’ maak geskiedenis by SAG-toekennings

Die akteurs van ‘Everything Everywhere All At Once’. (Foto Frederic J. Brown/AFP)

Die absurde wetenskapfiksie-komedie Everything Everywhere All At Once het sy oorheersing by vanjaar se Hollywood-toekenningsgeleenthede voortgesit, en boonop ʼn rekord gebreek deur Sondag die top-eerbewyse by die Screen Actors Guild (SAG)-toekennings in te oes.

Dié rolprent handel oor ’n Chinees-Amerikaanse gesin wat ’n belastingoudit ondergaan en in ʼn interessante nadraai uiteindelik teen ’n superskurk, wat deur verskillende dimensies kan beweeg, moet veg.

Michelle Yeoh, wat die hoofrol vertolk, het die beeldjie vir die beste aktrise gewen, terwyl haar mede-akteurs Ke Huy Quan en Jamie Lee Curtis onderskeidelik die beeldjies vir beste manlike en vroulike byspelers huis toe geneem het.

Brendan Fraser. (Foto Frederic J. Brown/AFP)

Everything Everywhere All At Once se 94-jarige patriarg, James Hong, het die fliek se vierde en finale prys vir die beste rolverdeling namens sy mede-akteurs en die fliekspan aanvaar.

SAG-wenners word in fliek- en televisierolle aangewys deur meer as 120 000 lede van Hollywood se waarnemende akteursvakbond en word beskou as ’n belangrike voorloper vir die Oscar-toekennings. Dit is ook die eerste keer in SAG-geskiedenis dat ʼn enkele fliek vier pryse verower.

Brendan Fraser, wat die toekenning gewen het vir beste akteur vir sy rol in The Whale, was die enigste akteur wat ʼn toekenning ontvang het wat níé ʼn rol in Everything Everywhere vertolk nie.

Jennifer Coolidge. (Foto: SAG Awards/Instagram)

The Whale én Everything Everywhere All At Once is beide toevallig vervaardig deur A24, ‘n onafhanklike Amerikaanse vermaaklikheidsmaatskappy.

Fraser, wat in die 1990’s een van Hollywood se gewildste akteurs was, vertolk die rol van ‘n morbiede vetsugtige onderwyser in The Whale. Hy het in sy aanvaardingstoespraak na sy professionele hoogtepunte en laagtepunte verwys deur sukses as ʼn golf te beskryf wat ʼn mens kan ry of wat ʼn mens “tot die seebodem kan stoot”.

“Ek wil net hê al die akteurs daar buite wat dieselfde as ek deurgemaak het, of tans daardeur gaan, moet weet dat ek weet hoe jy voel. Glo my, as jy net een voet voor die ander sit, sal jy eendag uitkom waar jy moet wees,” het Fraser gesê.

Jennifer Coolidge, wat bekend is vir haar kleiner rolle in flieks soos Legally Blonde en American Pie, het die beeldjie vir beste aktrise in ’n TV-dramareeks gewen vir haar rol as ʼn bedorwe erfgenaam in The White Lotus. Coolidge is ook tydens vanjaar se Golden Globes vir dieselfde rol as die beste vrouebyspeler vir ʼn beperkte televisiereeks aangewys.

Sally Field. (Foto Frederic J. Brown/AFP)

Sally Field, die Oscar-bekroonde ster van Norma Rae en Steel Magnolias, is met ‘n lewenslangeprestasie-toekenning bekroon.Sy het ook soos ander wenners melding gemaak van die ekonomiese onsekerheid, maar ook belonings, wat ’n loopbaan in die uitvoerende kunste kenmerk. Sally is gedurende haar loopbaan vir nege SAG-toekennings benoem en het in 2009 een gewen vir haar rol in die televisiereeks, Brothers and Sisters.

Variety berig dat dié toekenningsgeleentheid plaasvind terwyl SAG, en ander vakbonde wat draaiboekskrywers en regisseurs verteenwoordig, nuwe kontrakte beding weens die ekonomiese impak wat stromingsdienste op die vermaaklikheidsbedryf het. Daar is ook aangekondig dat die SAG-toekennings volgende jaar regstreeks op Netflix en nie ʼn televisiekanaal uitgesaai sal word nie.

Klik hier vir die volledige wennerslys.

Helder kleure oorheers op rooitapyt

Die sterbelaaide seremonie het ook vir indrukwekkende mode-oomblikke gesorg.

Die Wednesday-aktrise Jenny Ortega, supermodel Cara Delevigne en SAG-wenner, Jennifer Coolidge, het stylvolle swart nommers vir die rooitapyt gekies, terwyl bekendes soos Angela Bassett, Jamie Lee Curtis, Emily Blunt, Jessica Chastain en Ariana DeBose in helder, warm skakerings van rooi, pienk en geel gepronk het.

Die Emmy-bekroonde aktrise Zendaya, wat bekend is vir haar rolle in Euphoria en die Spiderman-fliekreeks, het koppe in nie net een nie, maar twee indrukwekkende skeppings laat draai.

Haar sagte pienk pasgemaakte Valentino-aandrok wat sy op die rooitapyt gedra het, is deur dié modehuis se kreatiewe direkteur, Pierpaolo Piccioli, ontwerp en met byna 200 materiaalrose geborduur. Sy het later tydens die seremonie ‘n pienk, babablou en swart moulose aandrok gedra.

Die Mamma Mia!- aktrise Amanda Seyfried het in ʼn minimalistiese appelgroen Prada-rokkie met ʼn eenvoudige sleep uitgestaan.

Die manlike-modes was vanjaar ietwat minder tradisioneel.

Die Ierse akteur Paul Mescal het ʼn deurskynende oorjas, wat met krale geborduur is, gekies, terwyl Eddie Redmayne ʼn wit bloes met ʼn groot strik saam met ʼn wyepyp fluweelbroek deur die Franse modehuis Yves Saint Laurent gekies het.

Bronne: AFP, CNN, Page Six, Variety.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.