Familielid skiet glo man, kinders in huis

(Argieffoto: Marcus Trapp/pixabay)

ʼn Man en vyf kinders is Dinsdag vroegoggend in ʼn huis in die Amerikaanse deelstaat Oklahoma doodgeskiet. ’n 25-jarige man, glo die broer van die man wat doodgeskiet is, is reeds in verband met dié moorde in hegtenis geneem.

NBC News berig polisie is Dinsdag omstreeks 01:30 na die toneel ontbied nadat hulle inligting ontvang het oor ʼn skietery by ʼn huis in Muskogee, ʼn stad oos van Oklahoma City. Daar het beamptes ʼn 25-jarige man met ʼn vuurwapen teëgekom wat van die toneel probeer vlug het. ʼn Beampte het op die man probeer skiet, maar hom gemis. Hy is later ná ʼn kort jaagtog vasgetrek.

Die man is geïdentifiseer as Jarron Deajon Pridgeon.

Volgens ʼn berig op Sky News het die polisie op die liggame van die man en vier kinders in die huis afgekom. ’n Vyfde kind is later in ʼn hospitaal in Tulsa dood. Die ma van die kinders, wat ook geskiet en gewond is, is in ʼn kritieke toestand na die hospitaal geneem.

NBC News berig die slagoffers is deur die polisie geïdentifiseer as Jalaiya Pridgeon (1), Jaidus Pridgeon (3), Harmony Anderson (5), Neveah Pridgeon (6), Que’dynce Anderson (9) en die broer van die verdagte wat vasgetrek is, Javarion Lee (24).

Die ma van die kinders, Brittany Anderson, is tans in ʼn stabiele toestand in die hospitaal.

Daar was nog drie kinders in die huis wat ongedeerd van die voorval afgekom het.

Volgens die polisie is daar geen ander verdagte wat met die moord verbind kan word nie.

Lynn Hamlin, woordvoerder van Tulsa-polisie, sê die polisie weet nog nie wat presies die motief vir die moorde was nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.