Finland gaan dié diere nou teen Covid-19 inent

’n Amerikaanse nerts. Dié soogdiere sal eersdaags op Finlandse pelsplase teen die koronavirus ingeënt word. (Foto: Patrick Reijnders via Wikimedia Commons)

Nertse op Finse pelsplase gaan eersdaags teen die koronavirus ingeënt word.

Dít volg ná ’n aankondiging deur die land se gesondheidsreguleerder dat ʼn eksperimentele entstof tydelik goedgekeur is.

Nerste is kleinerige bruin soogdiere wat op land en in water leef. Hulle word hoofsaaklik vir hul pelse geteel en is glo een van die min diere wat Covid-19 na mense kan oordra.

Luidens ʼn berig op AFP het navorsing bevind dat dié soogdiere ʼn hoë risiko vir die opdoen van die virus inhou.

Denemarke, voorheen Europa se grootste uitvoerder van nertspelse, het groot skade weens die Covid-19-pandemie gely aangesien die virus verlede jaar op verskeie nertsplase versprei het.

Dit het tot ʼn ernstige afname in die land se nertsbevolking gelei ná sowat 17 miljoen nertse van kant gemaak moes word.

Volgens Jussi Peura, navorsingsdirekteur van die Finse pelstelersvereniging, is meer as ʼn halfmiljoen dosisse van die eksperimentele entstof reeds beskikbaar.

“Dit behoort genoeg te wees om elke nerts twee keer in te ent.”

Dié vereniging het die entstof in samewerking met die Helsinki-universiteit ontwikkel.

“Die voorwaardelike permit om hierdie entstof te gebruik sal tot einde Desember geldig wees, wanneer die aansoeker verdere data moet verskaf,” sê Liisa Kaartinen, seniorinspekteur by die Finse voedselowerheid.

“Sodanige permitte kan tydens ʼn pandemie toegestaan word in die geval waar geen ander entstowwe beskikbaar is nie.”

Aangesien kliniese proewe nog nie uitgevoer is nie, kan die entstof nie in dié stadium kommersieel versprei word nie. Dit mag slegs in oorleg met streng maatreëls op die 1 000 pelsplase in Finland toegedien word om die verspreiding van die virus te monitor.

Die goedkeuring van die entstof is slegs op Finland van toepassing – waar geen gevalle van die koronavirus al onder nertse aangemeld is nie. Die oordrag van die virus deur mense in dié land was ook regdeur die pandemie relatief laag vergeleke met ander lande in die Europese Unie.

Finland is glo ook die eerste Europese land wat goedkeuring vir die gebruik van so ʼn entstof ontvang het.

Rusland het wel in Maart aangedui dat dié land die wêreld se eerste diere-entstof teen Covid-19 geregistreer het – wat voorheen op honde, katte, nertse en jakkalse getoets is.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Anoniem ·

Hulle moes 17m van die diertjies doodmaak maar jy dink dit is snert

Nie Verbaas ·

Net soos hulle Covid in papajas opgetel het? Gaan hulle papajas ook inent?

Nie Verbaas ·

En ek is seker die pels van die diertjies is nie gebruik nie?

Nuustak ·

Die enigste ding wat ek uit hierdie artikel geleer het is dat ‘n ‘mink’ in Afrikaans ‘n ‘nerts’ is.

groenboer ·

Seker ‘n pink in Engels, en in Afrikaans so lig-perts nerts.

groenboer ·

Ek het self gewonder, en nou het jy my die moeite gespaar.

JM ·

As verspreiding van die virus op hierdie manier gestuit kan word, waarom nie inent nie?

Anoniem ·

Mense gooi lang woorde soos wêreldorde rond maar as ek ‘n verduideliking soek verdwyn almal

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.