Ford gaan 3 800 poste in Europa sny

(Foto: Jan2575/Pixabay)

Die Amerikaanse motorvervaardiger Ford het Dinsdag gesê hy gaan 3 800 poste in Europa besnoei, hoofsaaklik in Brittanje en Duitsland, in die lig van toenemende mededinging in die bedryf vir elektriese voertuie.

Die maatskappy sê 2 300 posisies in produkontwikkeling en administratiewe funksies sal in Duitsland besnoei word, met 1 300 in Brittanje en 200 elders in Europa oor die volgende drie jaar.

“Hierdie is moeilike besluite wat ons nie ligtelik neem nie,” sê Martin Sander, algemene bestuurder van Ford Model-e in Europa. “Ons besef watter onsekerheid dit vir ons span skep en ek wil hulle gerus stel dat ons hulle oor die volgende paar maande al ons ondersteuning sal gee.”

Die maatskappy sê die besluit het ten doel om sy onderneming in Europa te vernuwe en om winsgewend te kan meeding met ʼn nuwe rits passasiersvoertuie.

“Die maatskappy doen stappe om sy onderneming in Europa te herstruktureer. Ons wil ʼn soepele, meer mededingende kostestruktuur skep,” het Ford bygevoeg.

Die maatskappy sê hy reageer op “vinnig veranderende marktoestande en die toenemende getal mededingers in die elektriesevoertuigmark”.

Die posbesnoeiings in Duitsland is minder as die 3 200 afleggings wat die IG Mettal-vakbond in Januarie verwag het. Die vakbond het sy verligting uitgespreek en gesê die skuif “sluit kostebesparing vir die maatskappy in maar beskerm ook die Duitse aanlegte”.

ʼn Verklaring deur die vakbond waarsku egter ook dat die Ford-geval wys dat dit nie net vervaardiging- en monteringsposte is wat geraak word deur digitalisering en globalisering nie, maar ook dié van hoogs gekwalifiseerde werkers.

Britse vakbond Unite sê die posbesnoeiings in Brittanje is “nog ʼn sterk herinnering dat die skuif na elektrifisering ʼn regverdige oorgang moet wees met langtermynbelegging en -beplanning deur motorvervaardigers en ʼn behoorlike nywerheidstrategie van die regering”.

“Dit sluit in om seker te maak dat batterye vir elektriese voertuie in die Verenigde Koninkryk gebou word, saam met ʼn verskaffingsketting geleë in die Verenigde Koninkryk.”

Ford sê die posbesnoeiings sal gedoen word deur vrywillige skeidingspakkette en dat hy ʼn ingenieursorganisasie van sowat 3 400 poste in Europa wil behou wat fokus op voertuigontwerp en -ontwikkeling.

Die Amerikaanse motorreus het verlede jaar duisende afleggings in die VSA en Indië aangekondig. Ford het verlede jaar verliese van $2 miljard aangeteken.

Die maatskappy het, net soos sy mededingers, swaar in elektriese voertuie belê en uitlaatgasvrye weergawes onthul van sy topverkopers soos die F-reeks bakkie.

Ford sê sy plan om teen 2035 “ʼn volledige elektriese vloot in Europa” aan te bied, bly “onveranderd”.

Die Europese Unie het ingestem om verkope van alle nuwe petrol- en dieselmotors vanaf 2035 te verbied as deel van die groep se pogings om ʼn koolstof-neutrale ekonomie teen 2050 te bou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Faraway ·

ʼn koolstof-neutrale ekonomie teen 2050 te bou . . . Sou die HERE vertoef om te kom ja

Groen Ghoen ·

So tussen die lyne gelees: Daar is natuurlik energie nodig om elektriese voertuie te vervaardig. Europese nywerhede se dae van goedkoop Russiese gas is nou verby. Koebaai Europa, hallo China. Jy het die situasie perfek gelees en uitgebuit.

Papsak ·

Ag elektriese voertuie hoe pateties hier is nooit krag nie so waar krag kry vir sulke voertuie regtig hulle is vertraag ek wens net China wil ook hulle neuse uit hou uit goed uit en ook net stil verdwyn die chinese is gemors vat SA vinnig oor nou

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.