Die romp en ander groot dele van die AirAsia-vliegtuig wat in die Java-see neergestort het, is gevind en afgeneem waar dit op die seebodem lê.
Ng Eng Hen, Singapoer se minister van verdediging, het op Facebook aangekondig dat een van die land se reddingsvaartuie, die MV Swift Rescue, die romp gevind het. “Foto’s wat deur ʼn afstandbeheerde robot geneem is wys ʼn deel van die vlerk en die woorde op die romp,” het Hen gesê. Daar word vermoed dat talle van die liggame wat nog nie gevind is nie, in die romp vasgekeer is.
Indonesiese soek- en reddingspanne het vroeër die week die vliegtuig se kajuit-stemopnemer en vlugdata-opnemer gevind. Die data van beide opnemers is noodsaaklik om te probeer bepaal wat moontlik tot die ongeluk kon gelei het. Die vliegtuig se stertvlerk is ook oor die naweek gevind.
AirAsia Vlug QZ8501 het op 28 Desember 2014 tussen Surabaya in Indonesië en Singapoer verdwyn. Die Airbus A320-200 met 162 persone aan boord het verdwyn nadat die vlieënier versoek het om van koers af te wyk weens slegte weersomstandighede.
AirAsia het intussen bevestig altesaam 48 liggame is al gevind waarvan 36 reeds geïdentifiseer is. Klik hier vir alle vorige berigte ooor Vlug QZ8501 op Maroela Media.