Foto’s: Gebeure verloop vreedsaam, feestelik by Area 51

Nevada- toets-en-opleidingsentrum naby Area 51 (20 September 2019) (Foto: AP Photo/John Locher)

Verrigtinge in Nevada in die VSA verloop hoofsaaklik vreedsaam ná duisende persone op die woestyn toegesak het in reaksie op ʼn uitnodiging op sosiale media om “Area 51 te bestorm”.

Minstens vyf persone is sedert Donderdag in hegtenis geneem op die afgeleë, eens geheime militêre basis, het sheriff Kerry Lee van die Lincoln-polisie, gesê. Die persone is in hegtenis geneem op aanklag van betreding tydens die “Alienstock” en “Area 51 Basecamp”-geleenthede en feeste in die klein woestyndorpies Rachel en Hiko.

Verskeie geringe beserings is aangemeld en een man is vir dehidrasie behandel deur paramedici in Rachel, voor hy na die partytjie teruggekeer het.

Alhoewel verskeie persone soos ruimtewesens aangetrek het, het niemand nog enige VVV’s of werklike ruimtewesens gesien nie.

“Daar is ʼn gevoel van gemeenskap onder almal,” het John Derryberry, wat van Nashville, Tennessee saam met sy meisie, Sarah Stone, na Area 51 toe gery het, gesê.

“Dit het as ʼn grap begin en nou begin mense mekaar ken,” het Tracy Ferguson (23), van Sioux Falls in Suid-Dakota, gesê. Hy en sy meisie, Jade Gore (19) van Worthington, Minnesota, is deur sosiale media geïnspireer om die gebied te besoek.

Minstens 100 mense het Vrydag om 03:00 na die “agterste hek” van die legendariese voormalige geheime Amerikaanse lugmagbasis beweeg en sowat 40 persone het moeiliker terrein betree om by ʼn hek in Tikaboo-vallei uit te kom. Sowat 300 persone het tydens daglig na die Tikaboo-hek beweeg en 800 persone het sowat 13 km gereis na die Rachel-hek.

ʼn Vrou van Kalifornië, in haar 60’s, is in hegtenis geneem toe sy dit duidelik gemaak het aan polisiebeamptes dat sy die gebied onwettig sal betree, “maak nie saak wat nie”. “Dit was net iets wat sy wou doen,” het Lee gesê.

Twee mans is in hegtenis geneem toe veiligheidsbeamptes van die weermag hulle in die berge binne die grense van basis opgespoor het, tussen die twee hekke. Owerhede probeer bepaal hoe om hulle voertuig uit die bykans onbegaanbare terrein te sleep.

Matty Roberts (20) van Bakersfield, Kalifornië, het met ʼn laataandplasing in Junie op Facebook die Area 51-fenomeen laat herleef. Roberts het Donderdagaand ʼn buitelugfees in Las Vegas gehou, ook onder die naam “Alienstock”.

Musiek, sprekers en flieks is Vrydag en Saterdag op “Area 51 Basecamp” by die Ruimtewesens-navorsingsentrum in Hiko se program. Sake-eienaar George Harris het gesê hy verwag minstens 5 000 persone. Lee het egter gesê dit wil voorkom of die gehoor slegs ʼn paar honderd mense is.

Cyril Soudant (25) van Lille in Frankryk het by die Rachel-hek gesê hy is teleurgesteld dat daar nie meer persone opgedaag het nie. “Ons almal weet ons mag nie deur die hek beweeg nie, maar as ons almal saamgaan, en ons het musiek en ʼn paar biere, dan sal dit ʼn sukses wees.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Johann cb ·

Ruimtewesens en VVV’s bestaan slegs in die mens se verbeelding.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.