Foto’s: Groot kragonderbreking in New York

Swart skerms by Times Square tydens ‘n grootskaalse kragonderbreking in New York (Foto: AP Photo/Michael Owens)

Meer as 70 000 persone is geraak deur ʼn groot kragonderbreking Saterdagaand in New York waar die skerms op Times Square afgegaan het en fliekgangers in pikdonker teaters moes sit en wag.

Die middestad in Manhattan en die sogenaamde Upper West Side is deur die kragonderbreking geraak. “Ons reageer op grootskaalse kragonderbrekings in die weste van Manhattan,” het Con Edison, woordvoerder vir die energieverskaffer, op Twitter gesê.

Bill de Blasio, burgemeester van New York, het kort ná middernag gesê die kragtoevoer is herstel. “Ek wil ons nooddienspersoneel bedank, die mans en vroue van die [polisiedepartement] NYPD, [brandweer] FDNY en @NYCEmercencyMgt vir hul harde werk deurnag, en elke New Yorker wat reageer het op die probleem,” het hy gesê.

Hysbakke het ook gaan stilstaan en verkeersligte was buite werking. Sommige moltreinstasies het ook gesluit, het plaaslike media berig.

‘n Polisiebeampte reguleer verkeer tydens ‘n grootskaalse kragonderbreking in New York (Foto: AP Photo/Michael Owens)

Verskeie Broadway-vertonings is op kort kennisgewing gekanselleer. Sommige kunstenaars het impromptu vertonings op die sypaadjie buite die teaters aangebied.

ʼn Konsert by Carnegie Hall het buite die gebou hervat net ná die gehoor buite bymekaargekom het.

Alhoewel talle winkels vroeg hul deure gesluit het, het talle kroeë en restaurante hul deure oopgehou.

Van die bekende elektroniese advertensieborde op Times Square was ook donker.

Geen beserings en geen inhegtenisnemings is aangemeld nie.

De Blasio het vroeër gesê die kragonderbreking is vermoedelik die gevolg van ʼn meganiese probleem op die netwerk. “Dit lyk of iets net verkeerd geloop het in die manier hoe krag van een deel van die stad na ʼn ander oorgedra word,” het hy aan CNN gesê. “Dit lyk of dit vinnig herstel kan word.”

Brandbestryders het reageer op verskeie transformatorbrande en mense wat in hysbakke en moltreinwaens vasgekeer is, het ʼn woordvoerder van die brandweer aan CNN gesê.

Presies 42 jaar gelede, op 13 Julie 1977, het ʼn grootskaalse kragonderbreking in New York tot brandstigting en plundery gelei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Willehond ·

Nooit geweet eskom voorsien krag aan New York nie! Wil jy nou meer! Nooit te oud om te leer nie!

Strandloper ·

Halloooooo daars wet en orde! Dit is nie Afrika nie! Esdom sal nie 5 minute daar kan bestaan nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.