Foto’s: Massiewe aardbewing tref Mexiko

Skade aangerig in die Meksikaanse staat Oaxaca. (Foto: AP Photo/Luis Alberto Cruz Hernandez)

Minstens ses mense is dood en verskeie beseer nadat ’n aardbewing van 7,4 die suidkus van Mexiko Dinsdagoggend getref het.

Die aardbewing was gesentreer in die Stille Osean suid van die kusdorp Crucecita, maar die impak daarvan kon byna 700 km daarvandaan in Mexikostad gevoel word. Altesaam 140 naskokke, hoewel baie klein, het ook voorgekom.

Luidens inligting is die sterftes almal naby die episentrum van die aardbewing in die Meksikaanse staat Oaxaca aangemeld. Dié staat is bekend vir sy koffie en Spaanse koloniale argitektuur.

’n Werknemer van die oliemaatskappy Pemex is een van diegene wat gesterf het nadat hy gedurende die aardbewing na sy dood geval het.

Die president van Mexiko, Andrés Manuel López Obrador, het gesê nog ’n persoon is dood en ’n ander beseer toe ’n gebou in Huatulco ineengestort het.

Volgens die president is geringe skade gedurende die aardbewing aangerig. Claudia Sheinbaum, die burgemeester van Mexikostad, het ook gesê geen ernstige skade is in dié stad aangerig nie.

Die Amerikaanse nasionale oseaniese en atmosferiese administrasie het kort ná die aardbewing gewaarsku teen ’n moontlike tsoenami langs die kus van Mexiko, Guatemala, Honduras en El Salvador. Dié waarskuwing is egter ure later onttrek.

Bronne: Aljazeera, New York Times

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.