[Foto’s] ‘Verlore stad’ toe net geologiese verskynsel

Die ‘verlore stad’ aan die kus van die Griekse eiland Zakynthos (Foto: Universiteit van Athene)

Die ‘verlore stad’ aan die kus van die Griekse eiland Zakynthos (Foto: Universiteit van Athene)

Die sogenaamde verlore stad wat snorkelduikers in 2013 aan die kus van die Griekse eiland Zakynthos gevind het, is toe al die tyd net die gevolg van geologiese verskuiwings.

Só blyk dit uit die navorsing van ’n span wetenskaplikes argeoloë en geoloë aan die universiteite van Athene en Oos-Anglia.

Die nuus van die verlore stad het in 2013 soos ʼn veldbrand op sosiale media versprei toe snorkelduikers op “mensgemaakte” pilare en gladde vloere, binnehowe en kolonnades afgekom het. Die duikers was oortuig hulle het op die oorblyfsels van ’n stad afgekom wat onder die see verdwyn het, soortgelyk aan die oorblyfsels van Atlantis wat in 1999 deur Franck Goddio opgespoor is.

“Nuwe navorsing het bewys die ‘stad’ is eintlik ʼn geologiese verskynsel wat byna vyf miljoen jaar gelede in die Plioseen-tydperk plaasgevind het,” het prof. Julian Andrews van die Britse universiteit van Oos-Anglia verduidelik. “Dit het bevestig waarom snorkelduikers nie enige ander tekens van menslike aktiwiteite soos potskerwe kon vind nie.”

Die “bouwerk”, wat tussen twee en vyf meter onder die see-oppervlak is, is glo veroorsaak deur ’n ondergrondse verskuiwingsvlak wat metaangas in die see laat uitsypel het, waar mikrobes gehelp het om strukture van dolomiet te vorm. Dit het ook as “sement” gedien om ander natuurlike rotsvoorwerpe aan mekaar te “messel”.

Andrews het gesê die proses vind gewoonlik net honderde en selfs duisende meter onder die see plaas. “Hierdie soort verskynsel is baie skaars in vlak water. Dieselfde gebeur in die Noordsee en dit is soortgelyk aan die gevolge van hidrouliese breking. Dit is ook ʼn bewys dat natuurlike metaan uit rotse sypel.”

Bron: EurekAlert, Daily Mail

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

15 Kommentare

jongste oudste gewildste
Paul

Franck Goddio het g’n “Atlantis” gevind nie. Die stad wat hy gevind het was Thonis/Heracleion aan die noordwestekant van die Nyldelta. Daar bestaan in werklikheid geen antieke mite oor die bestaan van ‘n plek soos “Atlantis” nie. Dis letterlik maar net ‘n denkbeeldige stad wat Plato as ‘n voorbeeld gebruik het in een van sy allegoriese stories. Dit verskyn nie in enige ander antieke werke of mites nie. Plato het nie bedoel dat dit werklik was nie. Niemand ernstig het ooit gedink dis werklik nie. Geen argeoloog sal aankondig dat hy “Atlantis” gevind het nie, want alle argeoloë weet dis… Lees meer »

Maria van Dieweeck

sjoe dit lyk mensgemaak

Pieter Senior

Noutoe nou – hoe WEET-enskaplik tog….. En het die Australiers al uitgevind dat hulle ointdekking van 3,5-miljard jaar gelede uitiendelik ook maar ‘n duistere raaiskoot was? Mens is skoon stomgeslaan deur sulke hoe vlakke van WEET-enskaplikheid.

Theuns

Dit wys jou maar net. Ons weet nie alles nie maar dankie Herman en al die wetenskaplikes.

Sarel

As daar nou iemand is waarvan ek nie n woord glo nie en my heeltemal aan afvee is dit wetenskaplikes. Hulle beweer en vermoed en neem aan en eintlik beteken dit niks, dis hol woorde, daar is geen feite en as jy lank genoeg jouself iets wysmaak, dan sal jy dit later glo en selfs kwaad word as ander dit nie glo nie. Nee wat, die brokkie nuus verbaas my nie, soos ek sê, niks van n wetenskaplike wil ek van hoor of weet nie. Hoog betaalde werk gevul met die meeste leuens.