Franse burgemeester stel aandklokreël in vir onder-13’s

Beziers (Foto: jeanmi / Pixabay)

ʼn Franse burgemeester het Dinsdag gesê hy het ʼn aandklokreël ingestel vir kinders jonger as 13. Dit is die jongste maatreël van sy aard om beweerde jeuggeweld te bekamp.

Verskeie Franse stede het al in die verlede tydelike aandklokreëls ingestel vir kinders.

Jeuggeweld het egter ʼn belangrike politieke onderwerp geword in Frankryk in die aanloop na die Europese parlementêre verkiesings in Junie. Die regsgesinde Rassemblement National loop voor in meningspeilings teenoor pres. Emmanuel Macron se gematigde party.

Die regering het verlede week ʼn soortgelyke maatreël afgekondig in een van Frankryk se oorsese gebiede.

Robert Menard, die onafhanklike burgemeester in Beziers, het Maandag beveel dat alle persone jonger as 13 in drie woonbuurte tussen 23:00 en 06:00 nie op straat mag wees tensy hulle deur ʼn volwassene vergesel word nie. Die aandklokreël is tot 30 September van krag.

Die aandklokreël is glo ingestel in reaksie op “ʼn toenemende getal jong minderjariges wat laataand op hul eie aangewese is” en ʼn toename in “stedelike geweld”, maar Menard het nie enige statistieke aan AFP verskaf om dié bewerings te staaf nie.

Volgens ʼn verslag deur die ministerie van binnelandse sake vroeër vanjaar verteenwoordig persone jonger as 13 slegs twee persent van persone wat beskuldig word van geweld teen ander, en slegs een persent van diegene wat vir gewelddadige rooftogte ondersoek word.

Menard het ook aangevoer dat die onder-13’s in Frankryk “nie voor regters verskyn en gevonnis word nie”. Die waarheid is egter dat minderjariges wel vervolg kan word, alhoewel jeughowe hul ouderdom in ag neem en ʼn verminderde vonnis oplê.

Die land se hoogste administratiewe hof het in 2018 ʼn soortgelyke bevel, wat Menard vier jaar te vore uitgereik het, verwerp omdat hy “versuim het om bewyse voor te lê van spesifieke risiko’s wat met minderjariges jonger as 13 verband hou”.

Twee inhegtenisnemings

Macron se party sal hewige kompetisie in die verkiesings ontvang teen Rassemblement National en sy regering het die afgelope paar weke ook homself streng uitgespreek teen jeuggeweld.

Gerald Darmanin, minister van binnelandse sake, het Donderdag beveel dat almal jonger as 18 vanaf 20:00 binnenshuis moet bly in ʼn stad in die oorsese gebied Guadeloupe. Dié bevel tree vandeesweek in werking en sal twee maande lank voortduur.

Die burgemeester van Pointe-a-Pitre voer aan minderjariges verteenwoordig 38% van diegene wat misdaad in die stad pleeg.

Christian Estrosi, burgemeester van die suidelike stad Nice, het aan BFM-televisie gesê hy oorweeg ʼn soortgelyke aandklokreël vir onder-13’s in sy stad van meer as 300 000 mense.

Die Nice-stadsaal kon nie verdere besonderhede aan AFP verskaf nie.

Honderde mense, insluitend verteenwoordigers van vakbonde en nieregeringsorganisasies, het Dinsdag in Beziers opgeruk teen die beleide van Menard, wat ook ʼn regeringsplan ondersteun het om skooluniforms verpligtend te maak.

Benoit Teste van die FSU-vakbond het gesê hy is bekommerd dat die regering te veel “verregse” idees wil implementeer.

FSU en medevakbonde CGT en Solidaires het in ʼn verklaring gesê twee Solidaires-studentelede “wat geen geweld gepleeg het nie” is by die optog in hegtenis geneem. Die vakbonde eis hul onmiddellike vrylating.

Die polisie in die Herault-departement het gesê twee persone, wat die linksgesinde “antifa” (anti-Fascistiese) beweging ondersteun, is in hegtenis geneem vir die besit van vuurwapens. Die vuurwapens was traangashouers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Johann ·

So wat is die “profiel” van die teiken groep? Soos in van waar is hulle? Taal voorkeur? Van waar is hulle ouers? Sommer net nuuskurig om te weet presies wie dit is wat só erg aangaan dat hulle ingeperk moet word as dit donker raak?

Dana ·

Kinders onder 13 hoort in elk geval tuis na donker of alternatiewelik slegs saam hul ouers indien nie tuis

George ·

@Johann, mens kom vinnig agter as n saffa iets se, soek altyd ras uit. Die profiel is jonger as 13, almal.

George ·

@Jakobus, jeuggeweld. Staan in die eerste paragraaf. Dis net so probleem in UK. Kyk mes geweld op die tubes onder tieners.

Bolandse Nooi ·

Ek sal dit sommer onder-18 maak. As jy ‘n kind is (wat jy tegnies- en wetlik gesproke is totdat jy 18 is), hoort jy nie na 21:00 op straat nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.