Frustrasie met stadige internet laat man in tronk beland

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

ʼn Man in China is sewe jaar tronkstraf opgelê nadat sy frustrasie met ʼn stadige internetverbinding verlede jaar oorgekook en hy internettoerusting aan die brand gesteek het.

Die brand het ʼn dae lange internetonderbreking in die omgewing tot gevolg gehad, terwyl die man as ʼn “groot baba” op die Chinese sosialemediaplatform Weibo uitgekryt is.

Volgens die hof in die stad Cenxi was die man in Junie verlede jaar by ʼn internetkafee in die suide van die Guangxi-provinsie. Hy was woedend oor die stadige verbindingspoed daar.

Die ontstoke man het ʼn aansteker gebruik om ʼn servet aan die brand te steek waarmee hy eindelik ook ʼn telekommunikasieboks met optiese veselnetwerkkabels by ʼn verkeersoorgang aan die brand gesteek het.

Die brand het veroorsaak dat byna 4 000 huishoudings en kantore, waaronder ʼn staatshospitaal, tussen 28 en 50 uur lank sonder internettoegang gestrand was.

“Veiligheidsbeamptes het ná die voorval beslag gelê op die man se misdaadinstrument – ʼn aansteker,” sê die hof.

Hy is tronkstraf opgelê vir die vernietiging van openbare telekommunikasiefasiliteite.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Pieter ·

Sal dit nie fantasties wees ,as die klomp hier by ons wat ook infrastrukture beskadig ook vir n paar jaar tronk toe gestuur word. Hier is dit net veel erger,spoorlyne, krag netwerke, dinge wat ander mense se dood kan veroorsaak, as jy so iets saboteer ,moet jy maar eintlik vir poging tot moor of moord toe gesluit word.

VaalDonkie ·

Ek voel partymaal so as ek met ‘n belangrike klient oor Teams praat en dit begin klink of hulle in ‘n staal drom sit. En dis altyd as ek met ‘n direkteur praat, nie een van sy onderlinge nie. Mos

Hasie ·

Wonder wat sy hy hier in SA gedoen het met die internet spoed hier ????

madels ·

So as jy nou gefrustreerd is brand jy sommer alles af, sjoe!!! Hoop hy sal sy les nou agter die tralies leer. As SA maar al die brandstigters wil wegsluit!! :-(

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.