Geen ondersoek oor prinses Diana-onderhoud, sê polisie

Prinses Diana (Foto: Kensington-paleis)

Die polisie in die Verenigde Koninkryk het Donderdag gesê hy sal nie formeel ondersoek instel oor bewerings van skelm taktieke deur ʼn BBC-joernalis om ʼn televisieonderhoud in 1995 met wyle prinses Diana te verseker nie.

Die onderhoud, in November 1995, is deur ʼn rekordgetal 22,8 miljoen persone gekyk en Diana het besonderhede verskaf oor haar huwelik met prins Charles. Dit is algemeen bekend dat sy tydens dié onderhoud gesê het daar was “drie mense in haar huwelik” – sy, Charles en sy ou geliefde Camilla Parker-Bowls – en dat sy ontrou was.

Gerugte het egter sedertdien die ronde gedoen hoe verslaggewer Martin Bashir dié onderhoud gereël het.

Londen se metropolitaanse polisie het egter gesê dit is “nie behoorlik om met ʼn strafregtelike ondersoek te begin” oor bewerings van misdrywe nie. Bevelvoerder Alex Murray het gesê ondersoekbeamptes het inligting oor die onderhoud ontvang, wat deur spesialiste, prokureurs en staatsaanklaers geassesseer is. “Geen verdere stappe sal gedoen word nie,” het hy in ʼn verklaring gesê. “In hierdie saak, net soos enige ander, sal ons dit assesseer as beduidende nuwe getuienis gebring word.”

Die BBC het verlede November aangekondig dat hy self met ʼn ondersoek sal begin, onder leiding van ʼn voormalige hooggeregshofregter, ná versoeke deur Diana se broer, Charles Spencer.

Diana se oudste seun, prins William, het die onafhanklike ondersoek “ʼn stap in die regte rigting” genoem.

Die prinses is in 1997 dood in ʼn motorongeluk in Parys, ʼn jaar ná sy en Charles formeel geskei het. Charles en Camilla is in 2005 getroud.

Spencer voer aan Bashir, wat later by Amerikaanse televisienetwerke begin werk het, het dokumente vervals om sy suster te oorreed om aan die onderhoud deel te neem. Daar was ook gerugte dat Bashir aangevoer het lede van die prinses se eie personeel is betaal om op haar te spioeneer. Bashir het later na die BBC teruggekeer as regisseur van godsdienstige sake. Hy het nie op die bewerings reageer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Manch ·

Charles Spencer is Diana se broer, nie Charles se broer soos berig word nie.

Megan Swart ·

Dagsê Manch
Ons vra om verskoning vir die oorsig. Die artikel is gewysig.
Dankie! Groetnis
Megan
nms Maroela Media

Connie ·

Ag laat Diana toe om te rus. Sy is genoeg gemartel deur koninglikes en hulle skelm streke. Rus sag jy was n engel vir duisende mense.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.