George Floyd het Covid-19 gehad – verslag

Die polisiebeamptes van links: Derek Chauvin, J. Alexander Kueng, Thomas Lane en Tou Thao. (Foto: Hennepin County Sheriff’s Office via AP)

George Floyd het in ʼn toets wat ná sy dood gedoen is positief getoets vir die nuwe koronavirus.

Só toon die nuwe lykskouingsverslag wat Donderdag deur Hennepin County bekend gemaak is.

Dr. Andrew Baker, hoof- mediese ondersoeker, het verduidelik dat die tipe toets wat op Floyd gedurende die lykskouing uitgevoer is, ʼn positiewe resultaat kan toon “weke nadat die kliniese siekte begin en opgelos is”.

Volgens Baker was Floyd waarskynlik asimptomaties. Dit beteken dat Floyd ten tyde van sy dood geen simptome van Covid-19 getoon het nie en dat die virus geen rol in sy dood gespeel het nie. Hy was waarskynlik ook nie aansteeklik ten tyde van sy dood nie.

Maroela Media het vroeër berig die 46-jarige is dood nadat ʼn polisiebeampte verlede week langer as agt minute op sy nek in Minneapolis in die Amerikaanse deelstaat Minnesota gekniel het.

Betogers Woensdag in Boston. (Foto: AP Photo/Charles Krupa)

Die betrokke polisiebeampte, Derek Chauvin, word nou deur ʼn meer ernstige aanklag van moord in die gesig gestaar, terwyl die drie ander polisiebeamptes wat betrokke was by Floyd se inhegtenisneming ook aangekla word.

Dié polisiebeamptes staan tereg op aanklagte dat hulle Floyd se moord aangehelp het.

Al vier beamptes is kort ná die moord geskors.

“Ek glo vas dat hierdie verwikkelinge in belang van geregtigheid is vir mnr. Floyd, sy gesin, ons gemeenskap en ons staat,” het Keith Ellison, prokureur-generaal van Minnesota, Woensdag gesê.

Betogings oor Floyd se dood duur steeds voort in meer as 20 Amerikaanse stede.

Betogers word Woensdagaand met traangas in New Orleans verjaag. (Foto: Sophia Germer/The Advocate via AP)

Minstens 90 mense is Woensdagaand gedurende ʼn betoging in New York in hegtenis geneem. Dít nadat 280 mense Dinsdagaand in dié stad in hegtenis geneem is.

Volgens Terrance Monahan, polisiehoof van die plaaslike polisie, het Woensdagaand se betoging baie meer vreedsaam as dié van Dinsdagaand plaasgevind met geen plundery wat aangemeld is nie. Betogers het wel die aandklokreël verontagsaam.

Betogings in Washington het Woensdagaand soortgelyk voorgekom, hoewel chaos in New Orleans voortgeduur het. Traangas is in dié stad gebruik om betogers uitmekaar te jaag.

ʼn Video wat wys hoe Floyd ná sy inhegtenisneming op die grond lê en na asem snak terwyl Chauvin op sy nek kniel, is verlede week wêreldwyd gedeel en het tot groot rassespanning in die VSA gelei.

Bykomende bronne: CNN, BBC

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Helien ·

Is regtig jammer dat so iets moes gebeur. Maar wat ek nie verstaan nie is dit nodig om die hele land te verwoes

marius ·

Die weermag lede in die land slaan ‘n man dood wat in sy erf wettiglik sit en dop . Waarom geen betogings , plunder en vernietiging nie ? Want daar was geen malungu naby nie .

Althes ·

Dankie MM vir die terugvoer. Ek sal as leser graag die hofsaak wil volg, as jul so gaaf sal wees om dit ook aan ons lesers te verskaf, wanneer dit voorkom.
Vandaliste is net so skuldig aan kriminele gedrag soos daardie polisiebeamptes beskuldig van word.
Ek sal my eerlike opinie maar vir myself hou.

Niklaas ·

As dit andersom was (swart polisieman wat wit man se dood so veroorsaak) sou almal tjoepstil gewees het. Ek dink die geleentheid om te buit by winkels word tans gretig aangegryp.

Michelle ·

Wat met die man gebeur het is verkeerd. Daar was baie ander maniere om beheer oor hom te kry. Wil ook net sê dat nie al 4 van daai manne blank is nie, so die nie-blanke man kon hom mos keer, hoekom het hy nie? Dit word oor ras gemaak waar dit ń polisie probleem is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.