Gesteelde Van Gogh veilig ná man dit net teruggee

Die speurder Arthur Brand het dié Vincent van Gogh-skildery teruggevind. (Foto: Arthur Brand/AFP)

ʼn Nederlandse speurder het Maandag ʼn gesteelde Vincent van Gogh-skildery teruggevind nadat ʼn man hom uit die bloute gekontak het om dit terug te gee.

Die gebeure wat aanleiding gegee het tot die onverwagte terugvind van die Van Gogh, klink egter soos iets uit ʼn fliek.

Die duur skildery is jare gelede tydens ʼn gewaagde rooftog uit ʼn museum gesteel, maar selfs nadat iemand vir die diefstal vasgetrek is, is dit nooit teruggevind nie.

Die Nederlandse polisie het Dinsdag bevestig dat die speurder Arthur Brand die 1884‑skildery genaamd “Parsonage Garden at Nuenen in Spring” in ʼn blou IKEA-sak gekry het. Hierdie skildery is tussen €3 miljoen en €6 miljoen (tussen R60 miljoen en R121 miljoen) werd.

ʼn Man het sowat twee weke vantevore met Brand kontak gemaak om die kunswerk terug te gee. Die man het glo niks met die oorspronklike rooftog te doen nie, maar wou om veiligheidsredes nie sy naam bekend maak nie.

Brand sê dit het uitgebreide onderhandeling geverg, maar die man het eindelik ingestem om hom te ontmoet om die kunswerk te oorhandig.

“Ons het die skildery in noue samewerking met die Nederlandse polisie teruggekry,” het Brand bevestig.

Die man het die skildery aan Brand in ʼn blou IKEA-sak oorhandig. Dit was met borrelplastiek bedek en in ʼn kussingsloop geplaas.

Beeldmateriaal wat deur Brand verskaf is, wys hoe hy die inhoud van die sak in sy sitkamer uitpak. Hy was duidelik verbaas toe hy besef het wat dit is.

“Ek kon dit nie glo nie,” het hy gesê.

“Dit was een van die beste oomblikke in my lewe.”

Richard Bronswijk van die Nederlandse polisie se eenheid vir kunsmisdaad het gesê dié vonds het verseker dat die saak eindelik ná langer as drie jaar opgelos is.

“Dit is beslis die egte kunswerk, daar is geen twyfel daaroor nie,” het Bronswijk gesê.

Skildery ʼn ‘massiewe hoofpyn’

Die skildery is op 30 Maart 2020 uit die Singer Laren-museum gebuit. Beeldmateriaal van die voorval wys hoe ʼn man in die middel van die nag ʼn glasdeur by die museum breek, voordat hy met die skildery onder sy arm weghardloop.

In April 2021 het die polisie ʼn man vir die voorval in hegtenis geneem. Hy is later aan diefstal skuldig bevind en tot agt jaar tronkstraf gevonnis.

Hy is ook later skuldig bevind aan ʼn afsonderlike rooftog waartydens hy ʼn skildery deur Frans Hals genaamd “Two Laughing Boys” gesteel het.

“ʼn Paar maande later het ek van ʼn bron in die misdaadwêreld gehoor wat die spesifieke Van Gogh gekoop het,” sê Brand.

Dié man, wat deur die Nederlandse polisie geïdentifiseer is as Peter Roy K., was in daardie stadium agter tralies vir die grootskaalse in- en uitvoer van dwelms. Roy wou die Van Gogh-skildery as kollateraal gebruik om vir ʼn ligter vonnis te onderhandel. Geen ooreenkoms is egter aangegaan om die skildery terug te kry nie en owerhede het steeds nie geweet waar die Van Gogh gehou was nie – tot nou toe.

“Die man [wat my gekontak het] het vir my gesê hy wil die Van Gogh teruggee, want dit het ʼn massiewe hoofpyn veroorsaak” omdat dit nie gebruik kon word om mee te onderhandel nie, het Brand gesê.

Die skildery is reeds aan die direkteur van die Groninger‑museum teruggegee, vanwaar dit oorspronklik aan die Singer Laren‑museum geleen is.

Frans Hals se “Two Laughing Boys” is steeds skoonveld, maar Brand sê hy hoop dat die skildery ook binnekort teruggegee sal word.

Brand het bekendheid verwerf vir sy merkwaardige herwinning van gesteelde kuns, insluitend die bronsbeelde gemaand “Hitler’s Horses”, ʼn Pablo Picasso-skildery en ʼn ring wat eens aan Oscar Wilde behoort het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Karoo ·

Ongelooflik die “waarde” wat “onodige rykdom” aan tasbare ietems gee. Dink net hoeveel lewens kan jy om jou verander.

Conraad ·

Hierdie Brand is briljant. Hy kan waarskynlik selfs die Kruger-miljoene vind, maar instede: Kan iemand hom asb aanstel om die Gupta-miljoene te vind?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.