Gevolgtrekkings uit die Amerikaanse verkiesingsuitslag

Barack Obama en sy vrou, Michelle Foto: Barack Obama, Twitter

Barack Obama sal vir die volgende vier jaar steeds die Amerikaanse president wees. Sedert ek in Februarie met kommentaar oor die verkiesing begin het, was my voorspelling dat Obama ‘n beter kans as Romney gestaan het om te wen. My redes was Obama se persoonlike gewildheid, die demografiese veranderings in die VSA en Obama se sterk grondvlakveldtog. Vanoggend het daardie drie kwessies verseker dat Obama herkies is.

Ek lys hier vyf belangrike gevolgtrekkings uit die verkiesing:

1. Demografie is koning in Amerikaanse politiek
Hoë stempersentasies onder swart kiesers, kiesers van Latyns-Amerikaanse afkoms en kiesers tussen 18 en 29-jaar oud het die oorwinning vir Obama verseker. Romney het uitstekend onder wit kiesers en ouer kiesers gedoen (selfs beter as Bush met sy oorwinning in 2004), maar die demografiese verandering die afgelope paar jaar in die VSA het die deurslag gegee.

2. Die Republikeinse Party is sterker as wat die media dalk vandag mag berig
Na vanjaar se verkiesing beheer Republikeine meer as 30 van die 50 goewerneurskappe in die VSA. Republikeine het hul voorsprong in die Huis van Verteenwoordigers bevestig en dit lyk asof dit selfs versterk kan word. Waar Obama vier jaar gelede met 10 miljoen steme teen John McCain gewen het, gaan hy vanjaar dalk die nasionale stem skaars wen. Daar was dus ‘n groot swaai van 2008 tot 2012 van Obama na die Republikeine, hoewel nie genoeg vir Romney om te wen nie.

3. Obama in ‘n verswakte posisie
Obama het ‘n hele paar state wat hy in 2008 gewen het vanjaar verloor. In baie gevalle het kiesers wat vir Obama gestem het op ander vlakke (senaat, huis van verteenwoordigers en goewerneur) vir Republikeine gestem. Steun vir Obama is louwarm en die groot euforie wat in 2008 oor Obama geheers het, is verby. Obama sal as verswakte leier regeer en hy sal moet verhoed om soos Bush na sy herverkiesing in 2004 te dink dat ‘n noue oorwinning ‘n grootskaalse goedkeuring van sy standpunte by kiesers is.

4. Die ekonomie is al wat vir die volgende jaar of wat gaan saakmaak
Indien Obama oor vier jaar van nou af as ‘n legendariese president onthou wil word, sal hy baie vinnig moet optree om die probleme van werkloosheid, staatskuld en lae ekonomiese groei op te los. Indien Obama hierin kan slaag sal hy as een van die beste presidente in ‘n lang tyd onthou word.

5. Republikeine sal groter steun onder minderhede moet kry
Die Republikeinse Party het baie sterk en aktiewe steun onder sy tradisionele steunbasis. Romney het uitstekend daarin geslaag om hierdie mense by die stembus te kry, maar dit was egter nie goed genoeg nie. Indien Republikeine wil voortgaan om verkiesings te wen sal hulle groter steun van veral kiesers van Latyns-Amerikaanse afkoms en Asiatiese afkoms moet kry. Daar is tans sterk leiers uit hierdie minderheidsgroepe in die Republikeinse Party en Republikeine sal dalk in 2016 ‘n persoon soos die baie gewilde Susana Martinez (die eerste vroue goewerneur van Latyns-Amerikaanse afkoms), goewerneur van New Mexico, as hul presidentskandidaat of minstens adjunk-presidentskandidaat moet aanwys om steeds relevant te bly in ‘n Amerika wat al hoe vinniger demografies verander.

Môre begin die veldtogte vir die 2014 middeltermynverkiesing en die 2016 presidentsverkiesing, want Amerikaners kan nooit ophou met politieke veldtogte nie!

Klik hier om ‘n video van Barack Obama se oorwinningstoespraak te sien.
Klik hier om ‘n video van Mitt Romney se toegewingstoespraak te sien.

Klik hier om die vorige berig te lees.
Klik hier om alle vorige berigte te lees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Charl ·

Baie goeie artikel en opsomming. Ek dink ook die ekonomie gaan die grootste rolspeler wees in die politieke sukses van die demokrate. Sien sommer klaar uit na die volgende verkiesing!

Jacques Smit ·

Baie goeie artikel Jaco. As ‘n persoon wat al self deel was van ‘n amerikaanse verkiesings veldtog, dink ek jy het dit baie goed saamgevat. Die belagrikste deel wat geleer kan word uit die amerikaanse verkiesing is die ontwikkeling van politiek die wereld deur. Dit is duidelik dat Politiek in Suid-Afrika nooit so ver sal vorder in daai opsig nie, omdat die huidige stelsel en groepe van mag nie sal kan baat daarby nie. Ek moet egter vir Solidariteit en Afri-forum geluk se in daai opsig, want hulle neem aspekte van wereld politiek en gebruik dit tot hulle eie voordeel. Die sukses wat beide van hulle behaal in die Politieke arena is bewys daarvan!!!

louis ·

Hoekom sien ons geen berig gewing oor Obama se bedrogsake nie?
Hoekom praat niemand oor Obama se vervalste kwalifikasies nie?
Wat van Obama wat eintlik ‘n moslem is?
Of die feit dat selfs sy geboorte sertifikaat vervals is? Die hospitaal waar hy kamstig gebore is, is eers twee jaar na sy geboorte gebou? Of sy pa wat op 3 jarige ouderdom in die tweede wereld oorlog baklei het?
Wat van Obama se bande met donker organisasies wat ten doel het om ekonomiee te laat val sodat sosialisme as enigste alternatief vir huidige stelsesl is?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.