Groot staking by Heathrow beplan

Die Heathrow-lughawe in Londen (Foto: Rachel Moore/Pixabay)

Veiligheidswagte by die Heathrow-lughawe in Londen sal hierdie somer 31 dae lank staak weens salarisse, het die vakbond Unite Woensdag aangekondig. Waarskuwings is uitgereik vir “chaos” tydens die spitsreisperiode.

Meer as 2 000 sekuriteitsbeamptes by terminus 3 en 5 sal van 24 Junie tot 27 Augustus staak, het Unite in ʼn verklaring gesê.

Unite beskryf die staking as ʼn “somer van stryd” en het beplan dat dit gelyktydig sal plaasvind met die besigste reisseisoen. Dit sluit die Moslem-fees van Eid al-Adha in laat Junie, die begin van skoolvakansies laat Julie en die lang vakansienaweek aan die einde van Augustus in.

“Vertragings, ontwrigting en kansellasies sal onvermydelik wees as gevolg van die staking,” het Unite se streeksbeampte Wayne King gesê. Die vakbond moedig bestuur aan om ʼn “billike” salarisaanbod te maak.

Brittanje is die afgelope jaar geteister deur stakings, ook deur spoorweg- en poswerkers, verpleegsters en onderwysers, terwyl hoë inflasie die waarde van salarisse verminder.

“Unite waarsku Heathrow dat stakings by die lughawe sal voortduur totdat ʼn billike loonaanbod aan sy werkers gemaak is,” het Unite se algemene sekretaris Sharon Graham bygevoeg.

Britse jaarlikse inflasie het in April verlangsaam tot die laagste in 13 maande, maar bly hoog op 8,7%, soos stygende kospryse ʼn teenwig skep vir laer energiekoste, het onlangse amptelike data getoon.

Heathrow, een van die grootste lughawens ter wêreld, word besit deur ʼn konsortium onder leiding van die Spaanse konstruksiemaatskappy Ferrovial. Die konsortium sluit ook soewereine welvaartfondse in van China, Singapoer en Katar, sowel as Noord-Amerikaanse aandeelhouers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Aggie ·

Ai, was Margaret Hilda Thatcher, ystervrou tog maar nog daar, dan sou daar niks van gekom het nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.