Groot uittog van adverteerders ná Musk ‘samesweringsteorie’ steun

Foto ter illustrasie. (Foto: SCOTT OLSON / Getty Images via AFP)

Groot maatskappye soos Apple, Disney, Lionsgate Entertainment en Paramount Global het vir eers hul advertering op Elon Musk se sosialemediaplatform X gestaak nadat Musk ʼn beweerde antisemitiese samesweringsteorie op dié platform gesteun het.

Musk het in reaksie op ’n plasing op X geantwoord met die woorde: “Jy praat die werklike waarheid”. Die oorspronklike plasing word deur die Withuis en die Amerikaanse media beskou as ’n verwysing na ’n jare lange samesweringsteorie onder wit oppergesag dat Jode ’n geheime plan het om onwettige immigrante in te bring om wit meerderhede te verswak.

Musk se steun van dié plasing het nou ’n groot uittog van adverteerders tot gevolg.

“Lionsgate het advertensies op X opgeskort weens Elon Musk se onlangse antisemitiese twiets,” het ’n woordvoerder van die rolprentproduksie- en verspreidingsmaatskappy aan AFP gesê.

IBM het Donderdag gesê hy het opgehou om op X te adverteer weens ’n berig dat sy advertensies “langs pro-Nazi-plasings” op X, voorheen bekend as Twitter, gewys is.

Die Withuis het Musk Vrydag veroordeel vir sy “afskuwelike bevordering” van antisemitisme.

Andrew Bates, woordvoerder van die Withuis, sê nou met verwysing na Musk se reaksie op die plasing, dit is “onaanvaarbaar” om so ’n “afskuwelike leuen” te herhaal.

“Ons veroordeel hierdie afskuwelike bevordering van antisemitiese en rassistiese haat, wat in stryd is met ons kernwaardes as Amerikaners, in die sterkste terme,” sê Bates.

Elon Musk. (Foto: Patrick Pleul
/AFP)

’n Onlangse studie deur die disinformasiemoniteringsgroep NewsGuard het glo bevind dat betalende intekenare van X die grootste verspreiders van disinformasie oor die Israel-Hamas-oorlog is.

“Tydens al hierdie Musk-geïnduseerde chaos, het korporatiewe advertensies ook verskyn op pro-Hitler‑, Holocaust-ontkenning‑, wit nasionalistiese, pro-geweld‑ en neo-Nazi-rekeninge,” sê Media Matters.

Media Matters het bevind dat Apple‑, Oracle‑ en IBM-advertensies langs plasings oor Hitler en die Nazi-party op X vertoon word.

“IBM verdra nie haatspraak en diskriminasie nie en ons het onmiddellik alle advertensies op X opgeskort terwyl ons hierdie totaal onaanvaarbare situasie ondersoek,” het die tegnologiemaatskappy wat in New York gesetel is, in reaksie op ’n navraag van AFP gesê.

’n Bestuurder by X het intussen aan AFP gesê die X-rekeninge wat deur Media Matters uitgewys is, is vlugtig nagegaan en die gebruikers sal nie meer geld uit advertensies kan maak nie.

Die plasings self sal volgens die uitvoerende gesag as “sensitiewe media” bestempel word.

“Advertensies volg die mense op X, in hierdie geval Media Matters se navorser wat aktief na hierdie inhoud gaan soek het – dit is hoe gebruikerteikening werk,” het die bestuurder verduidelik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.